“No other sound can match the healing power of the sounds of nature.” – Michael Bassey Johnson, Song of a Nature Lover

In Engels noem hulle die klank van die wind deur die blare, “psithurism”.

Die gerusstellende en vertroostende wete dat die aarde nog draai, die son more weer sal opkom, die lente weer reën sal bring.

Die son brand vitamiene D in jou smagtende wese in. Jy voel weer een met die natuurkragte, dit wat lewe gee, maar ook neem. ’n Winter is byna verby, ’n tydperk van besinning, verkenning en herontdekking.

Die songloed is soggens al vroeër. Die son skuif al hoër teen die hemelruim uit, ’n teken dat verandering aan’t gebeur is, dat ons nog ’n kringloop voltooi het. Daar is ander ontwakings ook.

Veral wanneer die vinke begin om nes te bou, hul lang uitgerekte en kenmerkende tjjjiirr in die bome. Jy sien hoe die mossie veertjies in sy bek optel, hoe die glasogies klein geveggies veg.

Mensvoete, veral dié wat deur die week in skoene geknel is, word gou geheel as jy op gras loop, voete skuur en tone in die grond rol. Een van die dae gaan jy met jou hele lyf op die aarde lê. Op kyk na die blousel.

Vir jongeres is aardsheid vanselfsprekend. Wanneer spier en been meer kranklik word, oë verdof en die gehoor vervaag, kom aardsheid al nader.

Ons lewe is ’n spiraal van jeugdige ekstase opwaarts, wat algaande met besinning afwaarts dwarrel. Die kringloop gaan ons in die aarde voltooi.

You need to be Logged In to leave a comment.