Rooyma se 20-jaar-skoolreünie lê op die horison. Haar klasmaats van toeka sal skaterlag as hulle later vanjaar moet hoor sy het onlangs aan ‘n 5km-pretdraf deelgeneem en dit boonop oorleef. Op skool was sy nie juis atleties nie, en haar balvaardighede het in die teenstanders se guns getel.
Ná lewenskronkels en ‘n paar beserings het sy besef gesondheid gebeur nie net nie. Dit is soos enige vaardigheid en voorreg. Ontwikkel en waardeer dit.
Eindelik het haar stap-om-die-blok tot ‘n stap-drafpas om die dorp verleng. Toe haar enkel haar twee weke voor D-dag opkeil, wou sy kleinkoppie trek, maar haar kernmense het “aikona” gesê en gemaak dat haar tekkies die teer drie keer per week raak en haar uithouvermoë en spoed verbeter.
Op die vooraand lees Rooyma ‘n artikel oor eensaamheid op ‘n mens se oudag. Dit moedig lesers aan om sosiale uitnodigings te aanvaar; om nie te wag vir ‘n uitnodiging nie, maar ander te nader; om buigsaamheid rondom rituele en roetines op prys te stel; en om ander om hulp te nader.
Op die dag van die wedloop moes Rooyma voor 06:00 gereed wees vir haar saamrygeleentheid: ‘n laaste maatreël om te verseker onfikse, groentjie-atleet voeg daad by woord.
Drie uur later staan sy saam met sowat 12 000 vroue, verteenwoordigend van alle hempgroottes, gelowe, ouderdom en ras, voor die wegspringstreep. Kameraadskap hang dig saam met opbeurende musiek in die lug. Vriendskap word vroeg tot laat gevier − ondanks ‘n hyg en snak na asem later in die wedloop. Onbekende vroue inspireer mekaar met hul stories na die eindstreep.
‘n Aanhaling by die uitgang lees: “Word gemaklik daarmee om die strawwe dinge te doen, want danksy strawwe tye en ongemak groei jy.”
Eers ‘n stappie om die blok, toe om die dorp; en danksy vriendskap en motivering is Rooyma se eerste 5km-pretdraf in 14 jaar verwesenlik.
Vandeesweek gaan sy probeer om langer tye aaneen te draf en minder tussendeur te stap − sy-aan-sy met haar ondersteuningskring.
Om vir emosionele onderskraging te vra, is nie ‘n skande nie. Sweet en hyg eerder saam as om in alleenheid en ongesondheid te verval.
Lees nog rubrieke hier.


