Tuisskoolonderrig het sy op- en afdae. Soms wil Rooyma in die kleinhuisie wegkruip vir vyf minute se stilte; ander kere is moederhen te trots wanneer haar kuikens haar met ‘n skerp antwoord verras.
Hoewel ‘n relatiewe streng roetine gehandhaaf word, is geen twee dae dieselfde nie.
Ná ‘n lewendige Laeveld-vakansie by Oupa en Ouma Bos (wat ná hul aftrede nie meer in die Bosveld woon nie) breek die vierde kwartaal ná ‘n oogknip se rus aan.
Vir Afrikaans trek “Teacher-Mommy” ‘n voorgeskrewe bundel kortverhale nader. Fanie Viljoen se “Die meisie met die kaaskrul op haar kop” word as luisteraktiwiteit voorgelees: Karla beleef haar eerste dag by haar nuwe skool met ‘n kaaskrul wat in ‘n sliert hare verstrengel is. Eliot wonder heeldag hoe daardie kaaskrul op haar kroon beland het, terwyl die boelie in die klas almal met ‘n vuisgebaar waarsku om nie hul “pret” te bederf nie.
Aan die einde van die storie word die geheim verklap, maar die Rooymiere besluit doelbewus om te kyk hoe lank húlle met ‘n kaaskrul op die kop kan loop.
Sussie, die maltrap, probeer eerste. Sy vaar goed, maar laat sak haar kop op 10m. Die jongste én kleinste in die huis (die worsie-toypom-kruising) sien haar kans en snel vinniger as Cheslin Kolbe op die gekurfde eetding af.
Boetman sou net met ‘n kaaskrul paradeer as sy ma eerste gaan. Die kaaskrul sit, en sit, en sit. Fluffy se bek begin kwyl en die vloer word tussen die gekef-kef en agterpootpolka ál meer nat. Eindelik buig Rooyma die knie − letterlik én figuurlik.
Oudste, ‘n raak-by-tiener, is reeds te selfbewus en vrees dat sy ma die oomblik op die sosiale media gaan verewig. Danksy mooipraat en paaiwoorde kry sy hom so ver om die “wind-eetding” op sy kop te sit. Net lank genoeg vir een foto.
Rooyma, so reg in haar aard, plaas natuurlik die foto en “tag” sommer die skrywer. Kort daarna lewer ‘n kennis droogweg die insig: “Dis seker wat ‘n kaas(krul)kop is.”
Wie het nou gesê stories is vervelig?


