Die hekklokkie lui. Die hoofdiaken staan voor die hekkie met ’n mandjie in die hand. Die kinders hardloop gillend die gang af. Kuiermense maak hulle opgewonde, veral ná twee Covid-19-jare.
Nuuskierig en sonder skroom loer hulle in die tannie se mandjie nadat die honde haar oorgretig deurgesnuffel het.
Sy haal ’n pak malvalekkers vir die Rooyetjies uit. Hulle sê op aandrang van hul ma “dankie”.
Sussie ruk ’n glasbottel uit die mandjie. Die kleurvolle plakkers daarop trek haar aandag en sy draai die bottel al in die rondte.
“Dis jul ouers s’n,” verduidelik die besoeker.
“What’s in there, Tannie?,” vra Oudste. “Kweperjellie,” antwoord sy. Oudste klap opgewonde hande.
“I love jelly!” Tydens die kuier vra en kyk Oudste of ons nie al die bottel oopgemaak het nie. Sussie kom kyk ook kort-kort na die plakkers.
Die tannie is skaars weg, toe wil oudste van die gebottelde jellie proe. Pappa smeer dit op brood en die kinders verorber hul broodjies sonder enige weerstand of dat hulle gedreig moet word.
Aandete vra Oudste vir “jam jelly” op sy roerbraai tot Pappa se verbasing, maar hy stem in.
Die volgende oggend vra Oudste weer vir “jelly jam”, die keer vir saam met sy beskuit.
Sy ouers lag in hul mou, want as hy moet weet hierdie lekkerny kom van bome, boonop van ’n kweperboom, sal hy dalk nie met heimwee hierna smag nie.

