pair of house sparrows on vibrant green foliage
Ter illustrasie. Foto: Amit Rai / pexels.com

“She decided to free herself, dance into the wind, create a new language. And birds fluttered around her, writing ‘yes’ in the sky.” − Monique Duval

Voëls in die tuin wat jou al vroegoggend met ‘n getjirp en geskater wakker sing, kan geen groter vreugde gee nie. Die oggendsang is soos sjokolade vir die oor, heuning vir die siel, salf vir die gemoed.

Liewe huisgenoot het jare gelede endemiese doringbome vir die geveerdes geplant, waar daar meer as tien neste is.

As die lemoenboom in die winter geil vrugte gee, word dit wat ons nie versap nie vir die geveerdes uitgedeel.

Halwe lemoene in die bome soos Chinese lanterns. Tiptolle, mossies, muisvoëls, witogies, houtkappers en meer vreet hulself dik aan die nektar.

Tussendeur word daar met mekaar rusie gevoer, vlerkgesleep en op takke in die laatmiddagson gebak, magies na bo.

Troeteldierwinkels maak ‘n goeie bestaan uit voëlliefhebbers wat wurms en wildevoëlsaad koop, want dit is eintlik ‘n belegging in die mens se siel.

Heeldag hoor ‘n mens die voëlgeluide, en onbewustelik sus dit jou. Sit jy op die stoep met ‘n beker koffie, sien jy daar word gewerskaf. Nesmateriaal aangevlieg, neste gebou; onder die boombas na wurms gesoek, op die grond rondgetrippel en blare omgegooi om insekte te vreet.

Nooit sal hulle kla, mor of murmureer nie.

Hulle leer ons oor geduld, volharding en die skoonheid van elke minuut van elke dag, week en jaar. Van met mekaar saamleef, al verskil ons kleure, sang, grootte en geite.

Altyd die sang, die vreugde. Ja, en rusies ook, maar selfs dit klink melodieus en laat ‘n mens lag.

Dit is nie net die mens wat hom vir sy vriende en familie kan vererg nie; vrede sal altyd seëvier.

Ek kan my nie die siellose wêreld sonder voëls indink nie.

Lees nog rubrieke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.