“As e-boeke onwettig versprei word, beteken dit dat die uitgewer, skrywer en vryskutwerkers soos proeflesers, redigeerders en illustreerders geen inkomste uit daardie boek kry nie. As skrywers en uitgewers nie vir hul werk betaal word nie, hou skrywers op met skryf en kan uitgewers nie voortbestaan nie.”

Só sê Marga Stoffer in die artikel “Uitgewers wil WhatsApp-groepe vasvat wat e-boeke deel”, wat op 30 April op Netwerk24 verskyn het.

Ek het respek vir mense wat Afrikaanse boeke koop, maar nie vir diegene wat steel en plunder nie. Soos jy wat met lang vingers elektroniese knoppies druk om kopieë van ’n skrywer se werk te maak, onwettig te versprei en geld daaruit te maak. Wat was jou aandeel om die boek te skep? Haal jy dalk Bybelverse aan en vertel hoe baie jy vir jou medemens doen en omgee? Eintlik draai die duiwel rond.

Skrywers, musikante, akteurs en ander vryskutwerkers bestee ure, dae, weke, maande, aan hul gekoesterde projekte. Hulle offer familietyd op om skeppende en uniek intellektuele produkte of projekte te skep – iets waarna jy wil luister of wil lees.

Kunstenaars en vryskutwerkers het nie werkgewers wat hulle in komberse van siekefonds-, pensioen- of verlofvoordele koester nie. Daar is nie siekverlof nie, al hoes jy hoe. Elke minuut van elke uur is kosbare tyd waarin die kunstenaar sweet om sy brood te verdien en sy uitgawes te betaal.

Skaam jou, jy wat seker graag vingers na die “korrupte regering”, die “skelm polisie” of “lui amptenare” wys. Jy is ook so.

You need to be Logged In to leave a comment.