Noudat die pes vir eers oor is, kan almal mekaar maskerloos eien en herken. Besef wanneer iemand glimlag of nie.

Ons is weer mense wat die lewe en menswees koester.

Dis asof siele ná dese meer na ’n ieder en ’n elk uitreik.

Asof ons stewiger in die aarde geanker is, ons oë wyer oop en ore meer ontvanklik.

Vreemdelinge word weldra vriende wanneer jy stilbly en luister, met insig probeer om iemand te leer ken.

Mense is wesens wat in werklikheid met mekaar verbind is deur kennisse, vriendskappe en bloedbande.

So beland ons op ’n oesfees waar smulpape in baadjies toegewikkel is. Hande is om bekers sop gevou en tande is geslaan in tuisgebakte brood waarop kaasballe mildelik gesmeer is.

Jy besef die vriendelike jong vrou aan die ander kant het jou verlede jaar met foto’s gehelp, die laggende man aan die oorkant van die tafel is die een met wie jy lankal ’n onderhoud wil voer, en jou gasvrou is een van jou jarelange vriende se vriendinne.

Jy besef dat ’n belastingkonsultant eintlik ook ’n kranige kok is wat haar vernuf op Masterchef moet toon, dat ’n suksesvolle sakeman ook ’n bobaas wynkenner is, dat ’n pragtige vrou wonderbaarlik ’n ernstige motorongeluk oorleef het, en dat ’n restauranteienaar wat steeds heerlike kos en wyn voorsien, een van sy besighede aan Covid-19 moes afstaan.

Wat ’n wêreld vol mense met ’n diepe waardering van lewe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article