“Cemeteries are full of unfulfilled dreams . . . countless echoes of ‘could have’ and ‘should have’ . . . countless books unwritten . . . countless songs unsung . . . I want to live my life in such a way that when my body is laid to rest, it will be a well-needed rest from a life well-lived, a song well-sung, a book well-written, opportunities well-explored, and a love well-expressed.” – Steve Maraboli, Unapologetically You: Reflections on Life and the Human Experience
Dit is ’n herfsoggend. Ons staan in ’n begraafplaas êrens in die Karoo, een wat darem nog skoongemaak word. Die oudste grafstene is met hand gebeitel en die skrif aan die klip uitgekerf.
Van die mense is in die 1800’s gebore. ’n Tydperk wat ek my skaars kan voorstel. Van hulle is dood in die tyd toe my ouers gebore is. Sommige was babas en kinders toe hulle oorlye is.
Hulle sou nou in hul tagtigs gewees het. Siele wat nooit peuters, kinders, tieners, jong mense, ouers of grootouers geword het nie. Nooit mylpale bereik, plekke verken, musiek gemaak, gedig of gedans het nie.
Nooit die veranderende wêreld van stoomtreine tot enjins, rekenaars of kunsmatige intelligensie beleef het nie.
Hier staan ek ook in my herfstyd. Ek het waarskynlik al langer geleef as wat ek nog gaan leef. Seker beter so, wanneer ek luister na die voorspellings oor klimaatsverandering. Dink aan die kanker van korrupsie wat die lewe uit mens, dier en aarde wurg. Die anderkant is nie meer so ondenkbaar nie.

