Kameeldoring: Herfs ’n rede vir rus

“It was one of those March days when the sun shines hot and the wind blows cold: when it is summer in the light, and winter in the shade.” Só skryf Charles Dickens in Great Expectations.


“It was one of those March days when the sun shines hot and the wind blows cold: when it is summer in the light, and winter in the shade.” Só skryf Charles Dickens in Great Expectations.

Rooiryp granaatpitte toegevou in goue skille, suurlemoene wat geel begin glimlag en die laaste blomme wat ’n buiging maak. Groen blare wat reeds na hul oranje en rooi tabberds en bruin stewels in die kas begin loer; wonder of die winterjas dik genoeg is. Die laaste somerreën wat stort om die aarde te versadig voordat die droë winter aanbreek.

Dik houtstompe word na die kaggel aangedra, en nie na die braaiplek nie. Muskiete en brommers is op die vlug en die son suig nie meer die jeugdigheid uit ’n mens se vel nie. Geen slapelose nagte meer wanneer sonbesies verseg om te gaan slaap nie.

Huisgenote kan hul resepte­boeke vir sop en bredie oopslaan, loer of daar genoeg rooiwyn en sjerrie in die kas is. Muwwerige winterklere uithang en kyk of die komberse gewas is.

Soggens staan die son later saam met jou op, en saans kan julle al vroeër in die vere kom. Die voordeur kan vroeër dig gegrendel word, rekenaars en selfone summier afgeskakel word.

Jy mag nou meer voor die TV-stel opkrul op soek na TV-reekse of rolprente wat jy weens die somer wat jou swembad toe getrek het, nie kon geniet nie.

Herfs bied menige verskoning om te hiberneer, te rus, te besin en van die wrede wêreld en oorloë daarbuite weg te kruip.

You need to be Logged In to leave a comment.