“Memories were beastly little creatures, after all – they rose with the faintest whiff of nourishment.” – Chloe Gong, These Violent Delights
Die tuine is lieflik groen, die briesie koel, die wolke helderwit teen die lug se blou. Die monument en museum is modern, interessant en aangrypend.
Gewaarwordinge oor herkoms en geskiedenis ruk ’n mens tot besinning. Mymeringe en prikkelings in die uitstallings laat woede en hartseer deursyfer. Name, plekke en datums in graniet herinner aan wie en wat ons vandag is.
Dit laat die reisgenote oor môre nadink, die lesse wat toegepas moet word. Golwe van emosies spoel oor die geselskap. Die binneste word versadig, totdat ’n fisieke dors toeslaan. Die winkel is om die hoek.
’n Oom met ’n weglêsnor beman die toonbank. Hy herkou aan ’n toebroodjie terwyl hy vlieë vervaard links en regs met ’n plak laat spaander. Skynbaar hou hy toesig oor een kelner, mede-middeljarig of bejaard. Dalk oudkollegas by die Spoorweë, nou vennote?
’n Vinnige blik en intuïsie suggereer ’n melkskommel bestaan dalk nie uit volroommelk en vars geperste aarbeie en ’n titsel room nie. Dalk veiliger om ’n koeldrank uit ’n bottel te skink. Die vertrek eggo by gebrek aan persoonlikheid, behalwe vir ’n spieëlbal in die plafon.
Flitse van enkele dekades gelede spoel oor. Beelde van wilde haardosse en blou grimering, breë, los gordels en wit skoene flikker.
Dan bedien die kelner sy kliënte trots. Hy het self die glase propvol geskink, ys ingegooi en plastiekstrooitjies ingedruk.
Lewende grepe uit die verlede bly met ons.

