a woman reading a book
Grendel die deur teen voortdurende steurings. FOTO: Darina Belonogova / pexels.com

“I have to be alone very often. I’d be quite happy if I spent from Saturday night until Monday morning alone in my apartment. That’s how I refuel.” – Audrey Hepburn

Voor sononder word hy en ander deure gegrendel. Oë en ore oral. Te veel, veel meer as in die 80’s toe dié liedjie “When I come home at night, I bolt the door real tight” een van my gunstelinge was. Eintlik steeds is. Die woorde so waar.

Met Facebook, WhatsApp, Instagram, X en andere word ek meer beklem.

Ons moet mos altyd bereikbaar en bereid wees. Altyd gereed om te spring.

Die selfoon is mos draagbaar. Die duiwel in jou handsak.

In die ou dae het die telefoon tuis en op sy plek gebly.

Die moderne mens mergel mekaar uit. Die grendeltydperk was aaklig ook, maar fantasties daarby. Om tuis te werk. Gedwing om vrede met jouself, jou dierbares jou tuistronk te maak.

Dit is veel beter om alleen te werk sonder diegene wat druk op jou plaas. Oë wat op jou rus. Ore na jou kant gespits.

Wat is jou insette vir die nuwe strategie? Wat gaan jy maak om die maatskappydoelwitte te bereik?

Jy wil uitskreeu dat jy nie meer omgee nie, moeg vir korporatiewe speletjies.

Die moderne wêreld is te vinnig, te gejaag, te vlak, te materialisties, te veel wat die mens nie eintlik is nie. Ons word ons eie monsters.

Jy hoef nie elke minuut van die dag iets te doen nie. Nie elke uur of elke dag nie. Jy kan net sit.

Jy kan vir die voëls luister. Na die blou hemel kyk en sien hoe die wolke heen en weer aangeskuif word.

Jy mag die wind teen jou vel voel, proe aan ‘n perske aan jou boom. Dis vrede, nie eensaamheid nie.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.