“The reason why there are so many bad people in the world is very simple: It’s easy to be a bad person, it’s hard to be a good person!” – Mehmet Murat ildan
Dit was ’n ver rit deur die eensame Karoo, wat voor sonsopkoms aangepak is. ’n Dag van heelwat onderhoude, foto’s neem, video’s doen.
Moeg kom jy by die gastehuis aan. ’n Lowergroen tuin met kwetterende voëls. En ’n aanbod van gratis ontbyt. Kom eet saam, alles reg. Uit die bloute, hartlik. Warm koffie word gebrou, geurige kos neergesit.
Net so die bure in ’n aftree-oord, altyd daar, ’n egpaar altyd besorg oor die weduwees.
Wat kom kyk as dit te stil by een huis is, wat boereplanne maak om die lewe vir kranklikes te vergemaklik.
Mense wat met hul besoeke lag, vrolikheid, geselskap en meelewing in ’n stil huis bring.
Wat op kere mense na winkels of haarkappers bring.
Ander weer, aanvanklik vreemdelinge, wat jou met ’n eerste besoek aan hulle verwelkom, tee bring, koek sny, probleme help oplos.
Vriende wat hul deure vir jou oopgooi om elders te kom asem skep, nuwe tonele in te drink, te skerts en onthou.
Hul vriende wat jou opsluit na ’n restaurant saamnooi en ’n glasie wyn skink. Bure in jou straat wat almal opkommandeer om slaggate reg te maak. Nie bang is om aan deure te klop en aan te dring dat almal saamstaan teen die aanslag wat dreig om ons ’n Niemandsland te maak.
Goeie mense maak ons iemand.

