’n Verwese hand klap lusteloos na ’n vlieg wat weiplek soek.

Die geprewel van dowe­ woorde strompel deur die gehawende baard, talm oor die vullisdrom waar sy hande delwerswerk doen.

Sy oë is kristalballe van rooi en dofblou waar die lewe reeds jare gelede moed opgegee het.

Om sy lyf goiing die verskrompelde klere wat voor somer laas water gevoel het. Sy rugsak berg sy hele bestaan.

Langs die pad droom die esels van ’n wêreld sonder trekgoed terwyl hul mense lusteloos teen die peperboom sit.

Die stofpad sien wiele net as die kalender draai en hoop op ’n aalmoes is skaars soos onweer in die Bo-Karoo. Die tsammas was galbitter, maar kon darem die ergste vrees van hongersnood eenkant toe stoot. Miskien lê ’n springhaas wat onder ’n motor se wiel gesneuwel het langs die pad of miskien het ’n geelnekpou teen die kraglyn gesneuwel.

Niemand weet van sy bestaan nie. Net saans as hy die vallei onder hom patrolleer, sal die buurt se brakke protes aanteken, maar hul geblaf het lankal reeds vir hom ophou bestaan.

Almal­ praat met die klein afgode met die helder skerms.

Die ou dae se saamgesels het ’n stille dood gesterf. Vertellings van die wildtuin se avonture is alles op die net op die boek sonder gesig. Daar is nie meer saamgesels en lekker lag nie.

Almal is vasgenael aan die allesoorheersende robotte.

Is jy ook ’n eensame?

Verkort, Netwerk24. Verdoorn is ’n natuur­liefhebber en -bewaarder.

You need to be Logged In to leave a comment.