Kameeldoring: Geluk is ’n seepbel

Kinders se onvoorspelbaarheid is so wispelturig soos die weer tussen seisoene.


Kinders se onvoorspelbaarheid is so wispelturig soos die weer tussen seisoene.

Iets wat vinniger as hul klere verander, is hul emosies. Dit is egter wanneer hulle hul monde voor kuiermense oopmaak wat Rooyma se binneste ineentrek, siende dat hulle nie filters of wagte voor hul mond het nie.

So sal Ouboet gesig trek as die tannie se beskuit te veel bakpoeier in het. “Dis nie lekker nie,” sal hy vol selfvertroue verklaar asof hy Gordon Ramsay is. Sussie voel intussen aan die binnenshuise plante. “Fake,” sê sy.

Die lyn tussen eerlikheid en bedagsaamheid is duidelik nog onduidelik. Gelukkig word die oor-eerlike oomblikke met soet afgewissel, soos wanneer Ouboet vertel hy het vir die hele familie gebid of Sussie wat voor aandgebede sê: “Ek voel nog nie beter nie.” Ná aanmoediging dat sy vir Jesus kan vra vir beterskap, en ’n rits ander dankbetuigings, eindig sy haar bidbeurt met: “Thank you for everything. Thank you for goeters.” Sy bly ’n ongekende oomblik stil: “The end.” Rooyma voorsien in die stilligheid ’n dag dat sy bid: “Fluit-fluit my storie is uit.”

Saans, wanneer die stilte oor die huis daal, besef Rooyma: Kosbare seepbel-delikate oomblikke lê knus tussen al die gebabbel en ongevraagde menings. Danksy kinders se stories word hul breekbare harte ontbloot. Dit is die groot klippe in die bottel. Die strewe na genot en aardse rykdom is die sand wat die res van die gapings tussen die klippe moet vul.

“Luister na die klein goedjies van jongs af, dan sal kinders wanneer hulle ouer is, met jou oor die groot goed praat.”

You need to be Logged In to leave a comment.