“We spend our way to the poorhouse. We buy giant TVs and iPads. Our children wear nice clothes thanks to high-interest credit cards and payday loans. We purchase homes we don’t need, refinance them for more spending money, and declare bankruptcy, often leaving them full of garbage in our wake. Thrift is inimical to our being.” – J.D. Vance, brainyquote.com
Sommige skoene in die kas is ouer as tien jaar, ‘n jas byna tien jaar. Klere is soos mense, beter en lekkerder met ouderdom, en elkeen het ‘n storie.
Watter lewensgeluk het wyle Gene Hackman en sy vrou se oorvol huis en kaste vol klere gebring? Daar sterf hulle sonder dat ‘n siel weet. Geen materiële besittings nie, maar net liefde, aandag en sorg sou hulle kon red.
‘n Vriendin inspireer. Niks word gekoop as sy nie iets anders herwin nie. Net tweedehandse winkels sien haar. ‘n Avontuur van vergete modes, ‘n leuse vir volhoubaarheid. Te midde van rakke van voorheen geliefde klere, bied dit ‘n wêreld van moontlikhede vir dié wat skeppend is, asook vir die eko-bewustes.
Om te skattejag bied benewens herwinning en besparing soveel pret en plesier. Die unieke bekoring van herinneringe en goeters wat heel bruikbaar is, net nie nuut en blink en skynheilig nie.
Niks meer sintetiese klere wat ryk en gemaksugtige Europeërs een keer aantrek en dit op die pragtige strande van Wes-Afrika en Suid-Amerika stort nie.
Hoekom is ons so traag terwyl die onvermydelike ons in die oë staar?
Ons verwoes ons eie bestaan, wat bly oor vir die nageslag?
Rykes verdrink in die skuld, die Jones’ lag uit hul mae, en ons vergaan.


