“Good things come to those who wait, but only what’s left from those who hustle!” – Abe Lincoln, Acts of the Apostles

Ongeduld is ’n sterk eienskap waarteen ’n mens voortdurend moet stry. Ook onverskilligheid en voortvarendheid.

Dit is die ideale bestanddele vir ’n driepootpot vol moeilikheid op ’n oop vuur met onbeheersde, vuurwarm vlamme en vonke.

Ongeduld en haastigheid gaan gepaard met lompheid en ’n talent om goeters te breek.

Glase, borde, vase.

Dit verg ’n ysere wil om met jouself te praat. (Wat ’n ander soort euwels uit jou dieptes kan wakker maak, maar meer daaroor op ’n ander keer.)

Stadig nou, wees versigtig, doen dit tydsaam.

Dit is die soort selfgesprek wat daagliks – nee, uurliks – word. Dink eers mooi oor ’n optrede, ’n opmerking, al kos dit tyd.

Deurdink die volgende stap, net soos wyn moet verouder. ’n Mens is uiteindelik dankbaar jy het Vader Tyd kans gegee om oor jou te waak, sodat Moeder Wysheid in jou oor kan fluister.

Ongelukkig kom dit eers met ouderdom, saam met die ongewenste grys hare en plooie.

Die insig is veel kosbaarder as oorhaastige, verbroude dade.

Dit is nie maklik om maatemmers ongeduld in jou gene met geduld te verplaas nie.

Wag dus met ’n glas verouderde wyn dat die vlamme uitwoed, dat die kole begin gloei, dat die rypgemaakte steaks netjies op die rooster gerangskik word.

Of die potjiekos geduldig laag vir laag gepak word om die lekkerste, geurigste sous op te tower. Dit is die ware beloning.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article