“Then, of course, the telephone’s such a convenient thing; it just sits there and demands you call someone who doesn’t want to be called.” – Ray Bradbury, The Golden Apples of the Sun
Ek mis die geroep, die gerusstellende gelui van ’n goeie, outydse, selfrespekterende landlyntelefoon.
Die een wat hom op sy plek in ’n gerieflike hoek van die huis gehou het. Hy was besadig, nederig en eenvoudig. ’n Skaflike swart, beige, of grys en rooi, miskien grys. Nikse gepienk of pers nie.
G’n tierlantyntjies nie, hy wil en hoef nie beter as dié van die Jonese te wees met alles wat flits en flikker nie.
Hy het hom nie oral laat ronddra nie. Die een wat beslis nie soos ou Wagter bereid is om saam in die kleinhuisie te sit nie. Wat hom nie teen jou oor laat vasknyp terwyl jy op die rekenaar speel nie.
Hy was nie een waarop mense jou kon bel wanneer jy bestuur nie.
Wanneer hy gelui het, het jou ore van nuuskierigheid geflap.
Wie is dit? ’n Kêrel, jou ouma, jou tannie of ’n verkoopsman wat met ’n dik ou telefoonboek op sy lessenaar sit en deur die alfabet bel? Jou voorletters, van en adres in swart ink. Ons was mos meer eerlik daardie tyd?
Vandag is die selfoon jou spioen, meer knaend as ’n skaduwee, wat darem snags wyk en jou laat deurslaap. Die aanmatigende gedrog wat alewig aandag eis.
Soos ’n baba met ’n nat doek.
’n Skisofreniese wese van gerief en gruwel.

