Jongste krap vir Oudste teen die voorkop toe hy die tablet probeer nader trek.

“She attacked me!” skree hy.

Pappa vra vir Oudste of hy toestemming gevra het.

“ ’n Mens gaan sit nie net langs ’n vrou en vat aan haar goed nie – jy vra eers,” verduidelik Pappa.

Om die situasie te probeer ontlont, lees Pappa ’n storie vir die twee, maar Jongste vat die pad.

Die duistere stilte, afgesien van die voorlesing, begin Mamma onrustig stem. Met verdere ondersoek word Jongste opgespoor.

Klein Klits die Tweede het voëlsaad ontdek en toets hoeveel sy met ’n verfkwas oor die eetkamervloer kan versprei.

Haar ouers besluit hierdie is ’n leergeleentheid. Vee.

Sussie met haar klein besempie stem nie saam nie. Sy vee woes in alle rigtings. Die saad spat tot by die deur uit. Pappa gryp vinnig in en demonstreer hoe ’n mens eintlik moet vee. Mamma gee byklanke: “Sweeeeep, sweeeeep.”

Sussie verruil haar besempie vir die verfkwas.

Pappa klink gebiedend: “Sussie, dis nie nou verftyd nie. Dis nou tyd om met die besem te vee. Jou ma kan jou later leer wat ’n mens nog met die besem kan doen.”

“Jy bedoel ek moet haar leer vlieg, nè?” snip Mamma en rol haar oë innerlik.

In baie gevalle moet daar soms ’n heks wees – en nie almal is op besems te sien nie. Sommige gebruik hul naels of die woorde “moenie” of “kom vee op”.

Ja, feekse – nes besems – is tog soms nodig.

You need to be Logged In to leave a comment.