“As long as you keep secrets and suppress information, you are fundamentally at war with yourself… The critical issue is allowing yourself to know what you know. That takes an enormous amount of courage.” – Bessel A. van der Kolk, The Body Keeps the Score: Brain, Mind, and Body in the Healing of Trauma
’n Dag of wat ná ’n afspraak by ’n spesialis êrens in ’n stad, bars ’n herinnering deur die newels.
’n Beeld uit die verlede stoot dik in haar keel op.
Hoekom? Is dit die spreekkamer? Die betrokke stad? Die beroep? So skielik, asof die beeld in ’n onbewaakte oomblik ’n ontsnappingskans gesien het uit die geheime kamer waarna sy dit jare gelede verban het. Dekades eintlik.
Die dae toe sy ’n jong, naïewe student was. Ver weg van die ouerhuis, met geen nabye ondersteuningsnetwerk nie.
Vir die eerste keer sonder ’n ma wat soos ’n tier vir haar broeisel veg. ’n Goeie ding ook, want die kuiken moet tog self deur die lesse van die lewe gebrei word.
Lewenslesse is egter nie dieselfde as om misbruik te word nie. ’n Student vasgevang in ’n ou bedeling waar Afrikaner-mans soos prokureurs, dokters en predikante se woord wet was.
Hulle is as eerbaar, Godvresend, respektabel voorgehou.
Die herinnering aan die kampusdokter, die een in wie se spreekkamer sy vasgevang was, is skielik so helder, so afstootlik.
’n Roetineondersoek vir ’n gesonde student met ’n longtoestand is nie ’n rede vir ’n tastende borsondersoek nie.
Eva, wees op jou hoede.

