“If you follow the classical pattern, you are understanding the routine, the tradition, the shadow – you are not understanding yourself.” – Bruce Lee, Tao of Jeet Kune Do
Ek breek die roetine met ’n boek wat ek nie kan neersit nie.
Skottelgoed en etery kan wag. Die swembad kan later geborsel word. Wat wil ek tog in die winkel gaan doen?
Want tussen die bladsye pak twee geoloë hul besittings en ’n hond in ’n vragmotor. Hulle moet die wildernis invaar en van die kaart verdwyn.
Die oorlog in Europa het hulle in Afrika ingehaal.
As vrydenkendes wat juis uit Duitsland gevlug het, sien hulle nie kans vir ’n interneringskamp nie. Hulle weet dalk hoe die aardkors miljoene jare gelede ontstaan en gevorm is, maar om die wildernis te oorleef?
’n Bekende roetine, wat as ’n veilige vangnet beskou is, is gebreek. En selfontdekking gedy.
Wanneer die honger jou teister, maak jy vele planne om patryse by ’n watergat te vang, ’n gemsbok van agter ’n klip te bekruip, vars waterbronne te soek en water te berg.
Jy leer om vet uit karkasse te kook, vleis te rook en sout van die aardkors te oes.
Jy begin glads geitjies en akkedisse as troeteldiere in ’n grot aanhou en leer hulle om stukkies vleis te kom eet wanneer jy fluit.
Jy word boosaardig wanneer ’n slang jou troeteldier vreet en blaas sy kop weg om jou diertjie uit sy pens te haal.
Jy raak weer mens, een met die aardritme, sonder roetine.

