“Roses grow in spite of the thorns. There’s beauty at the end of that painful stem. But only if it’s allowed to bloom.” – Jennifer Hartmann, The Thorns Remain

Ons gedy in doringwêreld.

Seker elke Noord-Kapenaar se skoensole het afgebreekte duwweltjiekoppe wat hardnekkig bly sit, asof hulle rus gevind het, weg van die dorre veld en skerp son. Hulle is die verworpenes, dié wat nie kans gegee is om in die rooi sand wortel te skiet en geel blommetjies soos sterre aan die hemel te skep nie.

Hulle kon nie rank en gedy en nuwe veld ontdek nie.

Bokant in die veld troon die kameeldoringbome, of die haak-en-steek geboomtes. Die harde kameeldoring se doring maak nie grappies as hy deur ’n skoensool steek nie. Respek.

Die haak-en-steek is weer meer skynvriendelik. Kom, moenie nou al gaan nie. Ek haak jou nader sodat ons weer oor die feite kan gaan – en as jy stry, gebruik ek die ander doring om jou te laat besef wie kraai koning.

Die halfmens se dorings lok ontsag uit. Met reg, want wie kan in ’n klipperige dorre Richtersveld sulke mooi blomme voortbring? Ek bewonder ook stekelrige aalwyne, wie se blomme soos vlamme in die geel grasveld gloei.

Ingevoerde dorings, soos dié van Engelse rose, kan ek uitstaan, want kyk net die blommeprag, die geure wat ’n mens kan inadem. Maar ’n kaktus of ’n Suidwesdoring? Nee!

Dorings in my vlees, en in my oog. Die enigste ander doring waarvan ek hou, is jy, jou ou Doring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article