Die ewige stryd tussen die mens en sy blou planeet is op ’n breekpunt. Gulsigheid en gierigheid knaag aan die weerlose aarde se grond, lug, minerale, water en plantegroei.

Stropers grawe die skaars vetplante met hul klipgesiggies uit Namakwaland.

’n Domkop se gif in ’n skaapkarkas wurg die lewe met ’n vernietigende hap uit 27 aasvoëls.

Onverwerkte rioolvuil vergiftig die riviere.

Renosters, olifante en leeus val voor misdaadsindikate wat uit die Ooste gedryf word.

Op straat bied smouse pakkies onwettige plaagdoder wat iewers ’n kind of ’n hond se einde sal beteken.

’n Mens wonder oor die mensdom.

Wêreldwyd kerm lande oor ekonomiese groei wat in die wortel verrot het.

Waar kom ekonomiese groei vandaan? Dink mooi: Uit die aarde se hulpbronne. Geen ander plek nie.

Mars is te ver. Die maan is ons nagsigtoerusting en niks meer nie. Om ons struikel die natuur stukkie vir stukkie. Dan wonder ’n mens waar die woord “mensdom” vandaan kom.

Die aarde gaan knak. Die mensdom sal die aarde laat knak. Geniet die enkele ongerepte plekke wat nog oor is, want ook dit sal verdwyn.

Dit verg net een vinger van een sadistiese leier op die gevreesde rooi knoppie en die paddastoelwolke sal die lewe op aarde vir ewig laat verdwyn.

  • Verdoorn is ’n natuurliefhebber en -bewaarder.
  • Rubriek verkort; bron: Netwerk24.

You need to be Logged In to leave a comment.