“Do nothing, and nothing happens. Life is about decisions. You either make them or they’re made for you, but you can’t avoid them.” – Mhairi McFarlane, You Had Me At Hello

Dae, weke en maande lank gebeur daar nie veel nie. Alles verloop soos gewoonlik. Die lewe gaan aan.

Jy staan op, eet en gaan slaap. Tussenin werk jy hard, elke uur bring ’n inkomste. Nie dat werk onlekker is nie. Gelukkig voel sommige beroepe nie aldag soos harde arbeid nie.

Baie keer reis jy na dorpies waar jy boeiende en prikkelende mense ontmoet wat die rykdom in hul omgewing ontgin. Hulle word karakters in stories wat lesers hopelik ook beïndruk. Die oom wat windpompe liefderik herstel. Die navorser wat kameeldoringbome klim om met aasvoëlnavorsing te help. Die dromer en skrywer wat ’n fliek maak en pryse vir sy toewyding verower. Geskiedkundiges en aktiviste wat hul bes doen om ons erfenis te bewaar. Jong mense wat ’n passie vir stroomtreine ontwikkel.

Dit is verrykend om ’n greep uit ander se lewe te beleef, en watter lewenspaadjies hulle gekies het. Wat hulle doen, hoekom, vir hoe lank, wat hul toekoms inhou – watter insigte kan ek saam met my huis toe neem?

Die vurk in die pad kan jou tot stilstand ruk. Reg of weg? Vasgevang tussen twee vure.

Die besluite wat almal móét neem – as kind, tiener, student, volwassene, middeljarige en bejaarde. Keuses kan jou huidige lewensgang tot stilstand ruk, maar jou toekomstige pad bepaal.

Dink mooi.

You need to be Logged In to leave a comment.