Rooyma het al vele kere gehoor oudword bekruip jou soos ’n dief in die nag. Wanneer jy jonger as 20 is, wil jy ouer wees. Al bete­ken dit net om elke dag gewone klere te dra en jouself te vervoer na waar jy wil wees. Die 20’s en pre-mid-30’s is lekker. Die post-mid-30’s is waar mense jou begin “tannie”.

Rooyma skrik haar anderdag tot papparellakoorssimptome toe ’n jong bruid vir haar “tannie” sê.

“My fronslyn op my voorkop het 20 jaar dieper gesink toe sy my ‘tannie’, ” kla sy by Rooypa.

Rooypa lag. Sy kraaipootjies by die oë is ook al merkbaar dieper as die dag van hul troue.

“Aanvaar dit,” gee hy ongevraag raad.

“Lyk ek so oud?” vra Rooyma.

“Die bruid se pa is drie jaar ouer as ek,” antwoord hy waar hy besig is met die paartjie se papierwerk.

Soos dit in haar natuur is, stry Rooyma. Sy tel op haar vingers om seker te maak. Verbysterend.

Verslae bekyk sy die aand die diepte van haar fronslyne in die spieël, span haar voorkopvel tussen duim en wysvinger. Haar blik strek opwaarts. Sy sien die babahaartjies wat silwergrys is.

Oudword se dief het opgedaag, al voel haar kop en innerlike self nog 20-iets. Die aand deel sy dié nuus met haar gryse moeder.

“Ek voel ook jonger as wat ek is,” sê Ouma Lappies.

Die oudwordstelling word deels die volgende dag by ’n troosdiens verklaar, hoewel dit dalk nie Paulus se bedoeling was nie.

“Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe,” haal die predikant 2 Korintiërs 4:16 aan.

You need to be Logged In to leave a comment.