“If I changed even one tiny little thing about that season, I wouldn’t be where I am today. I wouldn’t be who I am today. I wouldn’t have fought the hardest battles of my life and won.” – Mandy Hale, You Are Enough: Heartbreak, Healing, and Becoming Whole

Dit is wanneer die gediertes nes skop op die klein matjie langs die bed in die kamer, dat die besef jou tref.

Die son begin al hoe meer indringend, half intiemer, inskyn, inloer wat daarbinne aangaan.

Hy kyk of mens en dier nog leef ná die lang, droë somer.

Of ons nog regop staan ná die vorige seisoene. Want hy weet.

Die son besef ons verwelkom dit dat hy sy felheid verloor, en toelaat dat koue oggendbriesies ons lawe.

Mense begin al dink aan waar die hondekombersies is; of dit gewas en reg is om hulle warm te hou.

Gedagtig dat die drietjies nou tweetjies geword het.

Die onthou tref jou soos ’n hamerhou.

Verlede herfs het ons nie geweet wat ons nou weet nie. Nie geweet die winter sou ons hart breek nie.

Die son lawe ons seer nadat ’n geliefde dier, ’n geliefde ouer weg is.

Die lewe brei ons; ons weet dit kom, maar ons is nooit voorbereid nie.

Nie dat ons ooit sal wees nie.

Nou, wanneer ek na die foto’s van die kuiers op die stoep kyk, sien ek die tekens raak, dit wat ek nie wou of kon raaksien nie.

Ons uurglas loop met elke seisoen leeg.

You need to be Logged In to leave a comment.