Die Rooyspan is boekwurms, en die grotes is net te dankbaar die kinders stry oor elke nuwe boekrak wat deur die pastorievoordeur ingedra word.
Besoeke aan die plaaslike biblioteek gebeur tweeweekliks.
Ongelukkig het nie een Rooyetjie al die kuns of etiket van ’n “inside voice” in die biblioteek bemeester nie.
Nietemin is hul geesdrif om daar te wees darem ’n riem onder die hart.
Sussie is nie kieskeurig oor die boeke wat vir haar uitgeneem word nie.
Sy verlekker haar net in die ruimte, die rakke en rakke vol boeke, en die pamflette wat beskikbaar is.
Boetman wil gewoonlik seker maak dat ’n Tintin- en ’n Asterix-boek uitgeneem word.
Die kakofonie van kinders beweeg na die toonbank.
Oudste vra dat sy boeke eerste gestempel word.
Hy vra vir die tannie agter die toonbank of sy alleen voel in die biblioteek.
Voordat die tannie kan antwoord, trap Sussie op die sanitasiestasie se pedaal en die vloeistof mis haar oë net-net.
Tuis begin Sussie haar ma se ingesteekte hemp uittorring en oplig terwyl sy met die ander hand ’n pamflet vashou.
Mamma sien hoe hard Sussie konsentreer en merk toe op dit is ’n Kansa-pamflet met illustrasies oor gereelde borsondersoeke.
Half-skaam en swyend is Mamma trots op haar Jongste wat minstens iets geleer het uit die uitstappie, en dat die voorkoming van borskanker deur gereelde selfondersoeke selfs vir ’n vierjarige verstaanbaar is.

