Sommige dae is moeiliker as ander. Sommige dae is so uitdagend; tot tien tel is te flou of te ver.
Die trane is vlak, die vloek naby en “I quit” ’n sekonde van uiter af. Op sulke sensories oorlaaide en emosioneel knellende dae het ’n mens goeie vriende of goeie grappies nodig.
Of Google. Desperaatheid noop Rooymamma op ’n dag, toe die Rooymiere afwisselend skree, om haar foon nader te trek en die internet te raadpleeg: “How not to lose your sh*t”. Op dié mespunt van ’n kranksinnige bui en op die damwal van onverantwoordelikheid, klok sy by ’n vriend op WhatsApp in.
Sy deel die skakel oor die voorkoming van jy-weet-wat spat en vind haar foon erken nie die gewraakte s-woord nie, maar wel “poop” in die soekfunksie vir die glimlaggende “bruin roomys”.
Sy hoor haar vriend oor ’n afstand frons: “My foon ken die woord, dalk omdat ek dit so baie gebruik.” Op daardie oomblik van bieg, troos Rooyma haarself aan die waarheid dat ander mense ook “bruinroomysdae” beleef – selfs al het hulle Apple-fone wat dié woord erken. Ander probeer ook keer dat die spreekwoordelike jy-weet-wat spat.
In die kameradie van die erkentenis van die voortslepende oorlog geken aan onvoorsiene gebeure en frustrasie, vind sy troos én ’n tikkie humor; twee goed wat op die wenslysie is om dié emotikon eerder as roomys in plaas van tjorts te sien.
Voordeel is, die hele petalje het gemaak dat sy bly was om van haar vriend se “bruin roomys”-gevoelens te hoor.

