Lede van die Vroue-Landbouvereniging (VLV) Sirkel Kalahari het behoorlik eerbewyse tydens die onlangse 95ste jaarlikse kongres van die VLV van Kaapland (VLVK) gewen.

Die ster van die aand was Marietjie Steyn van die VLV Vryburg-tak wat die Willie Jooste-trofee vir die mees uitstaande artikel in die leefstyl-afdeling ontvang het. Vir dié handborduurwerk – ‘n kussing met Indiese kettingsteek versier – het sy 86% behaal. In die hekel-afdeling het sy 85% vir haar moderne oortrektrui gekry, asook die Wynnie Schoeman-trofee.

VLV Sirkel Kalahari
Van die vroue met hul eerbewyse is van links Arina Beukes (VLV Kuruman-tak), Corlie van Zyl (sirkelpresident en van Reivilo-tak), Carien van den Berg (Reivilo-tak), Marietjie Steyn (Vryburg-tak) en Carien van Niekerk (Vryburg-tak). Foto: Verskaf

Corlie van Zyl, president van VLV Sirkel Kalahari, en Carien van den Berg, albei van die VLV Reivilo-tak, het ook baie goed in die handborduurwerk-afdeling gevaar. Corlie het ‘n tweede plek met 85% behaal, en die Saar Garish-trofee ontvang. Carien het ‘n vyfde plek met 81% behaal. Die handborduurwerk-items word vir ‘n jaar lank in VLVK se tekstielmuseum by die Jubeliumhuis in Dorpstraat 126, Stellenbosch, uitgestal.

In die weef-afdeling het Corlie ‘n tweede plek met 84% behaal, en die Betsie Rood-trofee vir haar geweefde tafelloper ontvang. In dié afdeling het Marietjie 79% gekry.

Arina Beukes, voorsitter VLV Kuruman-tak, het in die masjienwerk-afdeling ‘n vierde plek met 84% vir haar oornagsak behaal. Karin van der Walt (Kuruman), het 77% gekry en Margo du Plessis (Vryburg) 75%.

Die wissel-afdeling was ‘n kwilt vir ‘n kleuter en hier het Marietjie en Margo onderskeidelik 79% en 75% behaal, en Rina Scheepers (Kuruman) 73%.

In die breiwerk-afdeling het Hettie Green (Kuruman) 77% vir haar sagte speelding behaal, Rina 74% en Eurika Byleveld (Vryburg) 70%. Bogenoemde items vorm deel van die leefstyl-afdeling.

Vernuf strek oor talle takke, sirkels

Die VLVK bestaan uit 120 takke en 17 sirkels. Sirkel Kalahari het die trofee ontvang vir die sirkel met die derde meeste punte (1334) in die leefstyl-afdeling. Vryburg is die tak met die tweede meeste punte in die leefstyl-afdeling (549) en Kuruman derde (535). Die Reivilo-tak het 250 punte behaal.

In die kunste en handvlyt-afdeling is Kuruman in die tweede plek (454 punte) en Vryburg derde (438 punte).

Petro Spangenberg (Kuruman) het ‘n vyfde plek en 75% vir haar epigram in die woordkuns-afdeling gekry. Erika Engelbrecht (Kuruman) en Nellie Viljoen (Vryburg) het albei 72% behaal.

Marietjie se spirituele olieverfskildery het 80% in die beeldende kuns-afdeling behaal, Petro Ollewagen (Vryburg) 65% en Erika Engelbrecht (Kuruman) 60%.

In die handvlyt-afdeling het Marietjie 79% behaal, Anet Strauss (Kuruman) 77% en Carien van Niekerk (Vryburg) 68% met hul knopekuns.

Vir die tema, “Elegante Eenvoud”, het Janet West (Kuruman) se fotografie 90% behaal, Zelda Lombaard (Kuruman) 85% en Marietjie 75%. Dié kongres het Donderdag 21 Augustus by Klub Mykonos in Langebaan plaasgevind.

Hettie du Plessis-Krüger, mediaskakelbeampte, VLV Sirkel Kalahari.

You need to be Logged In to leave a comment.