Kalahari-leeus wys tande

Die eerste span van die Kuruman-rugbyklub het die eerste keer in jare ’n oorwinning behaal toe hy die span van Vryburg onlangs met 12 – 8 geklop het.

Kuruman se eerste rugbyspan, ook bekend as die Kalahari Leeus, wat op 12 Maart ’n oorwinning oor die span van Vryburg behaal het. Van links is, voor: Zander Stevens, Randy Adams en Cassie Bubb Credit: SYSTEM

Die eerste span van die Kuruman-rugbyklub het die eerste keer in jare ’n oorwinning behaal toe hy die span van Vryburg onlangs met 12 – 8 geklop het.

“Dit was die span se heel eerste wedstryd in meer as drie jaar,” sê Tobi de Jager, afrigter van die Kuruman-span wat hom eers in verlede jaar by hulle aangesluit het.

“Dit is vir my duidelik waarom hulle ook die Kalahari-leeus genoem word,” sê De Jager.

Hy sê dat Covid-19-regulasies die Kuruman-span se afrigting en speel van wedstryde baie gerem het.

Die oorwinning wat die span egter op 12 Maart teen die Vryburg-span – op die Noordwesters se tuisveld – behaal het, wys dat dié span talent het en met spelers van hoë gehalte kan spog.

“Die span bestaan uit ’n goeie mengelmoes van ouderdom en ondervinding. Armand de Beer het hom ook as ’n goeie kaptein bewys,” sê De Jager.

Hy glo dat die ondervinding wat hy as ervare afrigter na die spelers bring, ’n positiewe invloed het.

De Jager, onder meer ’n oud-Griekwas- en Super 12-speler, het verlede jaar van Rustenburg na die Noord-Kaap verhuis. Hy was daar betrokke met afrigting in die baie mededingende Carlton-liga.

Die Kuruman-span speel Saterdag (26/03) in die Van Druten-reeks op die Sishen-veld. Toeskouers is welkom om dit by te woon.

De Jager nooi belangstellendes wat hulle by die Kuruman-rugbyklub wil aansluit om hom by 083-520-1986 te bel. Die span oefen elke Dinsdag, Woensdag en Donderdag om 18:30.

You need to be Logged In to leave a comment.