’n Kokerboom en ’n suikerbekkie is die hoofkarakters in ’n opvoedkundige en vermaaklike kinderleesboek wat deur ’n onderwyser aan die Hoërskool Martin Oosthuizen (HMO) in Kakamas geskryf en illustreer is.
Alae Hanekom het in opdrag van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) dié boek, Kokie en Sukie, met karakters en ’n storielyn eg aan dié deel van die Noord-Kaap, geskep.
Hoewel dit Hanekom se eerste gepubliseerde boek is, is dit nie vir haar ’n nuwe ervaring om skeppend met woorde te wees nie.
Dié onderwyser wat Engels vir gr. 8- en gr. 9-leerlinge by HMO aanbied, is ook by die dramadepartement betrokke waar sy onder meer die teks vir toneelstukke skryf.
’n Gedig van Hanekom is ook in haar gr. 11-skooljaar as ’n wengedig publiseer.
Sy vertel dat die SBA ’n opvoedkundige en unieke, inheemse storie oor kokerbome wou hê, en sy het betrokke geraak.
“Deel van die doel hiervan is om ons land se stories te versprei; ons het so baie stories om te vertel,” sê Hanekom.
Die SBA se hoofdoelwit is die algemene bevordering van Afrikaans, veral onder die jeug, en in samewerking met talle borge verseker die organisasie dat Afrikaans op alle vlakke aandag kry.
Hanekom se riglyne vir die skryf van die boek was dat dit tien tot 12 bladsye moes beslaan, met ongeveer dieselfde aantal inkleursketse.
Dié sketse het kleurwaterverfsketse geword nadat die ouderdomsgroep vir die teikenlesers verhoog is.
Hanekom sê dat sy ’n woordeskatlys aan die einde van die boek bygevoeg het om unieke Noord-Kaapse woorde en sekere begrippe uit te lig. Die uitlegkunstenaar het dié woorde skeppend op die toepaslike bladsye ingebring.
Die boek is reeds digitaal beskikbaar, en gedrukte kopieë gaan direk by skole deur die SBA versprei word.
“Die boek het my ongeveer vier maande geneem om te voltooi. Tog het dit vinnig gevoel,” vertel Hanekom, ’n oudleerling van HMO.
Haar oupa en haar ouers was ook oudleerlinge en onderwysers aan HMO.
- Verlede jaar het HMO se produksie Skaakmat, waarvan Hanekom die teks geskryf het, talle pryse verower.
Skaakmat is as wenner van die tienertoneelproduksie op die Hoërskool-dramafees in Kaapstad aangewys en het boonop die prys vir die beste teks ontvang, asook benoemings vir beste regie, beste akteur, beste aktrise en beste ensemble. Dit was die tweede jaar agtereenvolgens dat so ’n produksie van HMO op die fees as wenner aangewys is.
Skaakmat is vanjaar in die jeugteaterprogram van die Suidoosterfees ingesluit.


