Dit is ’n sprekende voorbeeld van kaderontplooiing wat belastingbetalers se geld eet.
Só sê Willie Aucamp, LP en DA-kiesafdelingshoof van die Kalahari, oor drie voormalige ANC-raadslede wat glo onreëlmatig in rampbestuurposte in die Gamagara-munisipaliteit aangestel is.
Volgens dié aanstellings verdien die rampbestuurder ’n salaris van R844 125, en die rampbeampte een van R567 148.
“Ons gebied het nie elke dag rampe nie,” sê Aucamp.
“Het hierdie mense ondervinding om in rampsituasies op te tree? Is die regte prosedures met die aanstellings gevolg? Waar is die poste adverteer? Het hulle kwalifikasies wat hulle vir die pos bevoeg maak?”
Die meerderheidsraadslede, met die uitsondering van die DA, het hierdie aanstellings op 27 Januarie tydens ’n raadsvergadering goedgekeur, sê hy. Dit is van die begin van Februarie af bekragtig.
Die aanstellings sluit in dié van Dineo Moyo Seetile, wat voorheen as speaker gedien het, in die pos van rampbestuurder; Abel Booysen, ’n vorige wyk 2-raadslid, in die pos van rampbeampte; en Monica Orpen, ’n vorige raadslid van wyk 3, in die pos van senior behuisingsbeampte.
Henriëtte du Plessis, DA-koukusleier in die munisipaliteit, sê in ’n verklaring dit is weer ’n blatante poging om na party-lojaliste om te sien in plaas van na inwoners van Gamagara, wat vir basiese dienste pleit.
“Die munisipaliteit kan in hierdie stadium nie sulke aanstellings bekostig nie. Dit maak meer sin om rampe op ’n ad hoc-basis te bestuur en eerder toe te laat dat die besparings van R1,3 miljoen benut word indien ’n ramp sou plaasvind,” sê Du Plessis.
“Die munisipaliteit kan in samewerking met die myne ook op ’n gekombineerde rampplan werk.”
Sy sê die DA het ’n brief aan die munisipale bestuurder, Protea Leserwane, ingedien waarin die aanstellings bevraagteken word.
“Ons wil spesifiek weet wanneer en waar die poste adverteer is, wanneer die suksesvolle kandidate aansoek gedoen het, hoeveel aansoeke ontvang is, wanneer keuring en kortlyste van kandidate gedoen is en watter kwalifikasies die aangesteldes het.”
In ’n brief wat Aucamp Maandag (21/02) aan Bentley Vass, LUR vir die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings, gestuur het, skryf hy dat Vass beter as enigeen anders weet hoe belangrik dit is dat poste in plaaslike munisipaliteite volgens die grootste diensleweringnood gevul moet word met mense wat vir die pos geskik is.
“Ek hoop dat hierdie saak die aandag sal kry wat dit verdien,” skryf hy.
Vass word ook versoek om ’n behoorlike ondersoek na die aanstellings te doen en die regte prosesse te volg.