Die vier verdagtes is voor sonsopkoms op Dinsdag 5 November deur boere en die Orania Veiligheidsdienste vasgetrek.

Foto: Facebook

Vier vermeende kabeldiewe verskyn weer volgende week in die hof in Petrusville nadat hulle op 5 November naby Orania in hul bakkie vasgetrek is met vermoedelik gesteelde koperkabels van derduisende rande.

Volgens Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, is die beskuldigdes Simon Makurudze (38) van Samora Machelstraat in Phuthanang, Kimberley; John Morrson (32) ook van Samora Machelstraat; en Makhiyana Mudaya (26) en Eric Marpa (26), albei van Snake Park in Kimberley.

Hulle sal weer op Dinsdag 19 November in die hof verskyn.

Die vermeende diewe is vasgetrek nadat die boereverenigings van Stroomop en Havengabrug hul kamerastelsels ingespan het om verdagte voertuie te identifiseer wat die afgelope ses maande snags elektriese kabels van Eskom en boere in die Hopetown- en Vanderkloof-omgewing steel.

Die Orania Veiligheidsdienste (OVD) het die boereverenigings bygestaan om die vermeende diewe op heterdaad te betrap en in boeie te slaan.

“Die saak word deur die polisie in Vanderkloof ondersoek. Die aanklagte is die diefstal van koperkabels van R40 000 wat deel is van noodsaaklike infrastruktuur by die Lieberwaltplaas in die Vanderkloof-distrik. Van die mans se immigrasiestatus word ook ondersoek,” sê Senokoatsane.

“Die mans is op 7 November vir die eerste keer aangekla en sou op 12 November om borgtog aansoek doen. Die private regsverteenwoordiger wat hulle ná die eerste verskyning aangestel het, het egter by die hof in Britstown opgedaag, en nie Petrusville nie, en die saak is uitgestel.

“Intussen is Makurudze op waarskuwing vrygelaat nadat die polisie hom nie weens sy klagte oor ’n gebreekte been ná die inhegtenisname na die hospitaal gebring het nie. Die ander drie bly in hegtenis terwyl hul burgerskap nagegaan word. Benewens die koperkabels, is ’n voertuig en toerusting ook in beslag geneem.”

Meer as 30 sake van kabeldiefstal aangemeld

Die vermeende diewe is gevang kort voordat besproeiingsboere koring moet oes, wat op dié stadium gereeld moet water kry. Slagoffers het die afgelope tyd byna 30 sake by die polisiekantoor in Hopetown en Vanderkloof aangemeld.

Lieb du Raan, in beheer van sekuriteit by die Stroomop-boerevereniging, sê die diewe het aanvanklik Eskom-kabels tydens beurtkrag gesteel, wat tot kragonderbrekings gelei het.

“Boere moes dan kragopwekkers gebruik om gewasse te benat. Later het die diewe ook die boere se elektriese kabels op hul grond gesteel en hul pompkamers beskadig. Boere moes geld opdok om hul toerusting te beskerm. Die diewe het skynbaar ook kontrakteurstoerusting wat hulle gebruik om lewende kabels te knip.”

Met die sekerheidskamerastelstels is die voertuie identifiseer wat ten tyde van voorvalle in die omgewing beweeg het.

“Toe ons weer die wit Nissan-bakkie van die verdagtes opmerk, is almal in kennis gestel en is OVD gevra om te help om die verdagtes vas te trek.”

Hy sê hulle sal ’n petisies onderteken dat die verdagtes nie borgtog kry nie, asook druk op die ondersoekbeampte plaas om ’n suksesvolle vervolging te verseker.

Die OVD sê in ’n verklaring sê dat die verdagtes sowat 40 km buite Orania in hegtenis geneem is. Hul veiligheidsgroep bestaan uit ’n Orania-taakspan, reaksiespan en ’n reserwegroep wat saam met die AfriForumspan gewerk het.

“Goeie skakeling tussen die spanne en die beheerkameroperateur in Orania het verseker dat mense strategies ontplooi is. Die manne het ’n yskoue lang nag in die veld deurgebring, maar teen Dinsdag om 05:00 het die verdagte voertuig die vermeende misdadigers opgelaai. Die stoppergroepe is geaktiveer en die spanne het toegeslaan.

“Sakke met 138 kg se koperkabels, asook toerusting wat vir die tipe diefstal gebruik word, is agterop die bakkie gevind,” lui die verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article