Die waagmoed en vermetelheid van kabeldiewe wat skynbaar met goeie beplanning grootmaat elektriese kabels van byna R1 miljoen onder groot rotse en blokke sement in helder volmaan uitgrawe, is skokkend.
Só sê Johan Smit, VF Plus-raadslid by die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley gemoeid met infrastruktuur. Volgens hom is drie verskillende grootmaattoevoerkabels die afgelope weke rondom die McDougalstraat-substasie gesteel. Een daarvan, wat krag aan die nuwe CRC-kerk moet voorsien, het al drie keer deurgeloop.
Die ander twee kabels wat gesteel is, voorsien krag aan die Mediclinic Gariep en aan die Droogfontein-woonbuurt oorkant die hospitaal. Smit sê die kabel wat krag aan die Mediclinic Gariep voorsien, is naby die McDougalstraat-substasie skuins oorkant die psigiatriese hospitaal op die R31-roete gesteel, wat hospitaalbestuur genoop het om op kragopwekkers en sonkrag staat te maak.
“Nou is die kabel wat die nuwe CRC-kerk van krag moet voorsien aan die ander kant van dieselfde substasie uitgegrawe. Die kerk se 95 mm, 11 000 volt-kabel is vroeër vanjaar in die grond geplaas, maar was nog nie by die McDougalstraat-substasie aangeskakel nie. Dele daarvan is op vorige geleenthede ook gesteel.
“Die diewe het oor die vurkheining van die substasie geklim en die kabel teen die gebou afgeknip. Net daar in die veld het hulle die plastiek en metaalomhulsels verwyder om koper in die hande te kry.
“Ek verneem hulle wou die kabel aan die ander kant van die N12 nader aan die kerkgebou ook uitgrawe, maar fietsryers het hulle gesien en verjaag.”
Volgens hom is daar nie sekuriteitswagte wat die substasies bewaak nie. Teen die gebou is ’n bord van ’n sekuriteitsmaatskappy aangebring.
“Dit is gewoonlik volmaan wanneer kabeldiewe bedrywig is. Die diefstal en vandalisme kos besighede derduisende rande. Boonop is daar ook skade by die munisipale substasie.”
Nog ’n kwessie is die toename in diefstal van sekerings by die kleiner elektriese kiosks oral in die stad.
Denise Coetzee, Mediclinic Gariep-woordvoerder, sê die kabeldiefstal het op 3 Oktober om 04:00 ’n kragonderbreking veroorsaak. Benewens die kabel is toerusting ook gesteel. Die kragtoevoer is onderbreek en is die volgende dag om 16:00 herstel.
“Ons was 36 uur sonder krag, maar twee kragopwekkers is in werking gestel. Ons het ook 580 KW sonkrag wat deur die dag gehelp het om die lading op die kragopwekkers te verlig. “Dit het ons steeds R81 000 aan diesel gekos. Geen mediese dienste in die hospitaal is geraak nie.
“Pasiënte, dokters en personeel was verontrief omdat die hospitaal op noodkrag funksioneer en die lugreëling buite werking was.”
Dodds Pringle, patrolleerder-voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê kabeldiefstal is ’n ernstige probleem en word vererger omdat veroordeelde oortreders nie swaar gestraf word nie.
Sommige skrootwerwe koop gesteelde koper aan, wat onwettig is.
“Dit is hoekom daar soveel straatligte is wat nie meer werk nie, en buite die stad is die lamppale afgesaag om by die kabels uit te kom.”
Benewens munisipale en Transnet-kabels wat gebuit word, steel diewe ook huise se toevoerkabels wanneer die inwoners uitstedig is.
“Die diewe het al op ons geskiet wanneer ons hulle betrap. Hulle skop en slaan erg wanneer ons hulle in hegtenis wil neem. Ons vertrou op die gemeenskap om ons met inligting te voorsien om die probleem hok te slaan.”
Inwoners moet verdagte optrede by die GPF aanmeld
“Kyk uit vir mense wat saans ná 22:00 in donker klere en waterskoene, en met gereedskap soos grawe, pikke, kruiwaens, tange en sae loop. Hulle beweeg meestal veldlangs,” sê Pringle.
Thoko Riet, munisipale woordvoerder, sê die CRC-kerk se kabel is April en Mei deur die munisipaliteit ingeplaas.
“Altesaam 160 m is die eerste keer in Augustus gesteel en vervang. Drie dae daarna is dit weer gesteel en weer vervang.”
Die kabel van R850 750 is deur die kerk gekoop, maar deur die munisipaliteit geplaas, wat dit ná die jongste diefstal moet vervang.
“Toe dit die eerste keer gesteel is, het ons ’n sekuriteitstelsel ingesit. Die alarm van die stelsel sit binne in die gebou. Ons is besig met ’n tenderprosedure om ’n sekuriteitsmaatskappy aan te stel om al die kwesbare sleutelinfrastruktuur van die munisipaliteit te beveilig.”
Die munisipaliteit het nie ’n klag by die polisie ingedien nie.
- Skakel die kantoor van die GPF by 079-979-8383 om verdagte optrede aan te meld, of Dodds by 072-936-7854.


