Al hoe meer sakeondernemings in Kimberley word deur die toename in kabeldiefstal geraak.
Volgens statistieke is die gebiede wat die meeste daardeur geraak word, dié waarin ondernemings geleë is.
“Klein- en grootsakeondernemings word geraak,” sê Bianca Botha, tweede visepresident van die Noord-Kaapse Sakekamer (Nocci) en die verkoopsbestuurder van Atlantic Foods in die stad.
“Mikro-ondernemings word veral geraak. Hulle kan byvoorbeeld nie kragopwekkers bekostig nie en moet hul deure in sulke tye sluit,” sê Botha.
Sy sê ondernemings wat wel kragopwekkers kan bekostig, is keelvol daarvoor om die opwekkers te midde van stygende brandstofkoste aan die gang te hou en om voortdurend elektriese kabels wat op hul persele gesteel word te vervang.
Vir dié rede het Nocci besluit om saam met ondernemings kabeldiefstal in die stad te beveg.
“Ons is besig om ’n projek te begin wat die hele gemeenskap gaan bevoordeel,” sê sy.
Sy wil nie veel oor die projek verklap nie, maar sê dat meer hieroor binnekort bekend sal wees.
Nocci is van mening dat nie die Sol Plaatje-munisipaliteit of die polisiediens genoeg doen om kabeldiefstal hok te slaan nie.
Volgens Botha dien sy ook in die Safer City-projek, wat in 2019 gestig is en waarvoor daar onder meer geld en middele beskikbaar gestel is vir die aanbring van sekuriteitskameras in en by die misdaadbrandpunte in die stad.
“Waar is die geld wat vir hierdie projek beskikbaar gestel is?” vra sy.
Kabeldiefstal raak egter nie net die sakekern nie. Inwoners plaas gereeld kommentaar op sosialemediaplatforms waarin geskryf word dat “baie rande” se kos weggegooi moes word weens ys- en vrieskaste wat tydens langdurige elektrisiteitsonderbrekings nie meer die kos koud kon hou nie. Diefstal by eiendomme neem boonop toe wanneer ’n buurt of straat in donker gehul is en wanneer sekuriteitstelsels ná ’n lang tydperk nie meer na behore werk nie.
’n Inwoner van Cassandra skryf op Facebook dat die meer as 300 huishoudings in die woonbuurt weekliks deur kabeldiefstal benadeel word.
“It will keep happening because there are no prominent political elitists staying in Cassandra,” skryf die inwoner.
’n Ander een skryf sy en haar man werk van die huis af en dat die brandstof van die kragopwekker tot R400 per dag kos.
Intussen bedreig en vertraag kabeldiefstal ook ’n behuisingsprojek in Kimberley waar meer as 300 eenhede glo gebou moet word.
Botha sê gesteelde kabels word glo meestal in die veld rondom Kimberley aan die brand gesteek om van die plastiekomhulsel ontslae te raak, waarna dit aan skroothandelaars verkoop word.
Volgens berigte op Netwerk24, na aanleiding van soortgelyke situasies in ander stede in die land, kos dit miljoene om die gesteelde en gevandaliseerde infrastruktuur te vervang of te herstel. Boonop is daar die moontlike lewensverlies weens elektriese skok of brande wat deur blootgestelde kabels ontstaan.
Die Suid-Afrikaanse Sakekamer het in Maart 2021 gesê kabeldiefstal kos die Suid-Afrikaanse ekonomie na raming tussen R5 biljoen en R7 biljoen per jaar.
Sello Matsie, woordvoerder vir die munisipaliteit, sê hulle is bekommerd oor die grootskaalse skade wat aan infrastruktuur aangerig word en wat miljoene kos.
“Georganiseerde bendes het oor meer as ’n dekade kritieke infrastruktuur beskadig, gevandaliseer of gesteel; soms met die hulp van personeellede wat later in hegtenis geneem en ontslaan is,” sê hy.
Matsie sê talle geheime veldtogte saam met die polisie het al voorheen tot die inhegtenisneming van Suid-Afrikaners en buitelandse burgers gelei.
“Wat aangemoedig moet word, is aktiewe burgerskap – waar sulke misdaad aangemeld word om hierdie euwel te verminder,” sê hy.
Die polisie is om kommentaar genader, maar het teen druktyd nog nie reageer nie.