Die R705-roete tussen die N12 in die Noord-Kaap en die Vrystaat het weens druk verkeer soos swaar gelaaide ertsvragmotors in ’n onveilige verwaarloosde provinsiale pad ontaard, meen inwoners.
Hul lewe is in gevaar en erge skade word aan voertuie opgedoen, waarvoor niemand pa staan nie.
Boere en inwoners is verplig om die pad te herstel met die bietjie materiaal wat die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer verskaf. Intussen weier landbou- en ander maatskappye om diesel en kunsmis by plase af te lewer weens die swak paaie.
Kempen Nel, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se kommersiële komitee, verteenwoordiger van streek 18 en eienaar van die Vlakvark Pub and Grill, sê die teerpad word met ’n padskraper geskraap om dit meer rybaar en veiliger te maak.
Die boere betaal die afgetrede padskraper-operateur se salaris, en die departement verskaf die toerusting en brandstof. Hy sê daar is geen departementele werkers oor in die dorpskantore om die paaie te herstel nie, terwyl die hoofkantoor met hoogs betaalde amptenare gevul is.
“Die pad met sy swaar verkeer is eintlik ’n interprovinsiale pad, want dit dra verkeer vanuit die Noord-Kaap, deur die Vrystaat, na die hawens in die Oos-Kaap. Die boere het twee en ’n half weke gelede die pad tussen Jacobsdal en R48-aansluiting tussen Petrusburg en Koffiefontein met gruis en sement reggemaak. Die pad is weer in ’n erge toestand.”
Hy sê die R705 voor die melkery is swak, en water wat natuurlik daar vloei, veroorsaak skade. Die boere het ’n pyp onder die pad, onderdeur ’n spilpunt tot by ’n dreineringskanaal gelê om die padoppervlak te beskerm. Die basis van die pad is so swak dat dit binne twee weke ná herstelwerk weer vol gate is. Sodra dit reën, is die pad weer flenters.
“Die myne dra nie by tot die onderhoud van die pad nie, want hulle betaal belasting en heffings aan die staat. Daardie geld vind nie sy weg na padonderhoud nie.”
Dr. Eduard Potgieter, hoof van die Hoër Landbouskool Jacobsdal (Landboudal), sê die R705- en R48-roetes is lewensbedreigend.
“Jy waag dit met jou lewe as jy nie die pad ken nie. Die hele pad verbrokkel en jy kan nêrens heen uitswenk nie. Ons ry via Kimberley na Bloemfontein, wat ekstra brandstofverbruik beteken. Ons het al drie keer die vellings van een van die skoolmotors se wiele vervang. Bande op busse is ook al vervang weens die erge slaggate op die twee paaie.
“Amptenare is bewus van die paaie en hoe dit lyk. Die gemeenskap, veral die boerderygemeenskap, help geweldig om paaie te skraap, veral die grondpad na Perdeberg wat ook ’n deurrit is na die N8 en Kimberley.
“Die boerderygemeenskap betaal gedeeltelik vir die skraap van die pad, terwyl die Jacobsdal-slagplaas se personeel gereeld slaggate in Jacobsdal vul.”
In sy provinsiale rede het Mxolisi Dukwana, Vrystaatse premier, erken hulle het nie tred met die eise van ekonomiese ontwikkeling gehou nie.
“Die verswakkende toestand van padinfrastruktuur is ’n struikelblok. ’n Regverdige, mededingende en deursigtige tenderproses word geskep om interne en eksterne sindikate wat die infrastruktuuromgewing uitbuit, te stuit.”
Sy regering het 25 groot infrastruktuurprojekte van meer as R138 miljard by Infrastruktuur Suid-Afrika geregistreer.
“Internasionale beste praktyke toon padbou moet op ’n meer doeltreffende manier plaasvind. Ons sal oplossings soos 24-uur-padbou ondersoek. Die instandhouding- en konstruksie-agterstand moet hanteer word.”
Die Xhariep-streek, waarbinne Jacobsdal, Petrusburg en Koffiefontein val, gaan R217 miljoen vir padinfrastruktuur ontvang.


