’n Juwelierswinkel in die North Cape Mall in Kimberley is Dinsdag 18 Julie tussen 11:00 en 12:00 deur ongemaskerde, gewapende mans beroof.
Volgens ander winkeliers is Pyramid Jewellers al voorheen deur rowers geteiken.
’n Omstander sê sy het voor haar winkel gestaan toe drie mans uit die winkel loop.
“Hulle het normaal voorgekom. Kort daarna het ’n man uit die winkel gestorm en gevra waarheen die mans is. Ek het gewys hulle het na die agterste ingang geloop. Dit is toe dat die drie mans begin hardloop. ’n Vrou het uit die winkel gehardloop en geskreeu dat iemand die polisie moet bel. Toe weet ek daar is groot fout.”
Volgens haar het die rooftog nie lank geduur nie.
“Ek glo een van die rowers het die personeel aangehou, terwyl die ander die juwele in hul sakke gepak het.”
Een van die werknemers wat die trollies stoot op die parkeerterrein agter die winkelsentrum sê hy het gesien hoe die mans uit die sentrum hardloop. Hulle het ’n sak en ’n plastieksak by hulle gehad. ’n Wegkommotor, ’n wit Toyota Etios, het nader gekom. Van die sentrum se sekuriteitswagte het aangestorm.
“Ek dink daar was nog mense in die kar, en een van hulle het ’n geweer op die wagte gerig. Hy het ’n waarskuwingskoot met ’n AK-47-geweer afgevuur. Ek en ander mense het dadelik weggehardloop. Toe jaag die rowers, wat seker in hul veertigs was, hier weg.”
Hy sê die skoot wat naby hom afgegaan het, was vreesaanjaend.
“Ek het gebewe.”
Die polisie het ná die rooftog verklarings van getuies afgeneem. Binne in die winkel is vingerafdrukke en foto’s geneem. Die ondersoekers het ook ’n gedeelte van die parkeerterrein afgesper.
Sers. Molefi Shemane, polisiewoordvoerder, sê voorlopige ondersoek dui daarop dat vyf mans in swart geklee die juwelierswinkel ingegaan het, en juweliersware met ’n onbekende waarde van die eienaar geëis het.
Shemane sê die verdagtes wat in ’n Toyota Etios gevlug het, word gesoek. Die publiek word gewaarsku om hulle nie te nader nie omdat hulle gewapen is en as gevaarlik beskou word.
Die ondersoek duur voort.


