Joop se Huis
Die komitee is Robert Fair, Daleen Warkus, Jana Visser, Denette Agenbag, Chrisna Oberholzer, en Louise en Cobus Rabie. Afwesig: Marika Fair.

Joop se Huis in Kakamas het as ’n droom en ’n gebed begin, en vandag dien dit as ’n baken van hoop in Kakamas.

Joop se Huis, Gemeenskap­sentrum van Lig en Lewe, het in Mei 2023 met die fokus op welsyn begin.

Marika Fair, dogter van wyle Joop van der Ham, welbekende gemeenskapsman en oogkundige, het soos haar pa ’n droom gehad om iets vir die gemeenskap op die besigheidsperseel by 11de Laan in Kakamas in te rig.

Sy het saam met haar broer, Johann van der Ham, ’n sendeling van Malawi, en Cobus en Louise Rabie by die perseel vir ’n antwoord en rigting gaan bid.

Omtrent drie dae later het vier vroue – Suna Rossouw, Jana Visser, Denette Agenbag en Chrisna Oberholzer – vir Marika genader met die versoek om ’n sopkombuis in die gebou te begin.

Dit het die bal aan die rol gesit, en kort daarna is ’n komitee gevorm om die reeds bestaande nie-winsgewende organisasie Joop van der Ham-stigting te bestuur.

Skenkings van onder meer tamaties word uitsorteer, in samewerking met vrywilligers. Foto: Verskaf

Koeponstelsel by Koskas gebruik

Die Koskas gebruik een van die winkels op die perseel wat in ’n kombuis en spens omskep is. Hier word kos in grootmaat voorberei.

’n Koeponstelsel is hier in gebruik. Hier kan enigeen vir R20 ’n koepon koop en wanneer ’n behoeftige vir kos vra of so ’n persoon opgemerk word, kan die persoon gevra word om vir ’n uur te werk, soos die skoonmaak van sypaadjies, uittrek van onkruid en meer.

Ná afhandeling van die werk kry die persoon die koepon waarmee ’n voedsame bord kos teen 12:00 op weeksdae by Joop se Huis afgehaal kan word.

Ander honger of werklose persone kan ook om 10:00 hier byeenkom waar hulle saam onder toesig ’n uur se werk in die gemeenskap doen.

Só is hulle al ingespan by die Tuin van Hoop by die dorpsingang, om slaggate te vul en dele in die dorp skoon te maak waarby die munisipale werkers nie uitkom nie.

Persone kan ook vir ’n uur in die groentetuin van Joop se Huis werk.

Vrywilligers werk in die tuin by Joop se Huis. Foto: Verskaf

Ná afhandeling van die werk, teen ongeveer 11:30, keer hulle terug na Joop se Huis waar elkeen opnuut van sy waardigheid en skeppingsdoel bewus gemaak word. ’n Dank- en voorsieningsgebed word gedoen, en om 12:00 ontvang elkeen ’n bord kos.

“So kry elkeen met kos in sy maag weer krag om vir ’n werk te gaan soek,” vertel Robert Fair, ’n betrokkene. Hy sê daar is talle mense wat hulle bedank en wie getuig dat hulle werk gekry het.

Volwassenes word meestal by Joop se Huis ondersteun, en duisende etes is die afgelope jaar reeds verskaf. Tussen tien en 20 persone daag weeksdae op vir werk in ruil vir kos. In die afseisoen, as daar nie werk op die plase is nie, kan dit tot 30 mense wees.

Die Koskas voorsien ook een maal per week gratis sop en brood aan 30 tot 60 volwassenes by die asgate. Baie van diegene herwin rommel wat hulle teen ’n lae vergoeding aan herwinningsentrums lewer. Dié mense, wat reeds vir hulself iets doen, word so bygestaan.

Denette Agenbag, deel van die komitee van Joop se Huis, by ’n persoon wat rommel by die asgate herwin. Foto: Verskaf

Verder ondersteun Joop se Huis ’n nie-winsgewende organisasie in Alheit wat behoeftige bejaardes ondersteun.

Die Koskas voorsien ook kos waar die behoefte ontstaan, en soos goedgekeur deur die komitee.

Die Klerekas is nog ’n winkel by Joop se Huis. Dit is ’n tweedehandse klerewinkel gevul met klereskenkings uit die gemeenskap, en is drieledig; om geld vir die organisasie en Koskas in te samel; om klere goedkoop aan die publiek en behoeftiges te verskaf; en om klere te skenk waar groot nood is.

Programme vir straatkinders beplan

Hoewel die komitee graag straatkinders wil help, word ’n strategie nog beplan.

“Baie van die straatkinders slaap snags in hul woongebied maar kom bedags dorp toe op soek na kos. Ons wil nie kinders met kos dorp toe lok nie. By die skole kry die kinders kos, maar die straatkinders voel nie gemaklik in die skole nie,” vertel Robert.

Annaline de Koker, vrywilliger en werker by Joop se Huis. Foto: Verskaf

’n Program wat oorweeg word, en wat voor die ontstaan van Joop se Huis aan die gang was, is die Wen-Wen Swop Shop wat deel van die nie-winsgewende organisasie is. Daar is egter op dié stadium nie iemand wat dit voluit vanuit die Langverwag-woonbuurt kan bedryf nie.

Vir dié program tel kinders herwinbare materiaal op, sorteer dit en bring dit op ’n gegewe dag na die plek waar die “swop shop” gehou word. Dit wat hulle versamel het, word geweeg en daarvolgens kry hulle ’n koepon met punte. Daarmee kan hulle in die Swop Shop allerlei koop, soos kos, skryfbehoeftes en toiletware.

“Die program het al honderde kinders se lewe aangeraak deur aan hulle te wys dat hulle self iets kan doen in die soms haglike omstandighede waarin hulle hul bevind. Hul menswaardigheid word herstel en dit bring baie hoop.”

Robert Fair

Nog ’n idee en droom is om vir straatkinders ’n alternatief te skep waar hulle in die dag bymekaar kan kom, veilig voel, aanvaar word, kos kry en op ’n spesiale manier by opvoeding betrek word. Van daar kan van hulle weer met ondersteuning terug geplaas word in staatskole.

Om dié droom te bewaarheid moet samewerking met onder meer die departement van onderwys en die polisie beding word, en dan moet die geriewe en personeel ook bekom word.

Elkeen kan bydra lewer

Kosskenkings wat van ondernemings en individue geskenk word, is van uiterse waarde vir die werksaamhede van Joop se Huis.

Behalwe skenkings van kos, vleis, en kontant, kan die publiek help deur ander te vertel van Joop se Huis, en om ook ou klere te skenk. Daar is ’n behoefte aan baba- en kinderklere. Die publiek kan die Klerewinkel ook ondersteun deur klere te kom koop.

Robert Fair wys hoe eenvoudig dit is om ’n koepon van R20 by die Koskas te koop. Agter die toonbank is Daleen Warkus. Foto: Verskaf

Die Klerekas se tye is Maandag tot Donderdag van 09:00 tot 13:00, Vrydag 10:00 tot 15:00, en Saterdag 09:00 tot 13:00.

Nog afloswerkers word in die Klerekas benodig, asook mans wat kan help fasiliteer en toesig hou met die persone wat opdaag om te werk vir kos.

“Dit is voorwaar ‘n riem onder die hart om te sien hoeveel mense van hul tyd, vaardighede en besittings vir die welsyn van ons dorp gee. Saam kan ons meer bereik en ons eie welsyn van ons gemeenskap bou,” beklemtoon Robert.

  • Vir meer inligting, bel vir Jana Visser by 076-795-5633 of Denette Agenbag by 082-779-4033.
  • Besoek Joop se Huis op Facebook.
Van die tweedehandse klere wat by die Klerekas van Joop se Huis te koop is. Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.