Van links is, voor: Christian van Vuuren, Anzz-rie Wiese, Karien Fourie, Cara van der Merwe, Annika Greyvenstein, Merlaine Parks en Annemarie van Heerden (botanis)

Baie pret met waardevolle kennis wat opgedoen is.

So word die onlangse kamp wat deur 14 Voortrekkers op die Bodemvas-terrein en Wildeklawer-plaas naby Barkly-Wes bygewoon is, beskryf.

Die kamp in Oktober is deur tien jeuglede en vier volwasse Voortrekker-offisiere – Dawid, Susan en Schalk van der Berg van Kathu en Dylan Erasmus van Despatch – bygewoon.

Die Voortrekkers is ’n kultuurorganisasie waar kultuur en avontuur in die natuur geniet word.

Drie deskundiges uit die gemeenskap het tydens die kamp insette gelewer. Coen Visser, geoloog, het geologie en geohidrologie (waterstudie) verduidelik.

Annemarie van Heerden, botanis van die McGregor-herbarium, het plantkunde behandel, en Manie Pickard van Wildeklawer het die bestuur van water in landbou bespreek en ’n besoek is aan die landerye gebring.

Die gr. 8-kamp was deel van ’n groter gebiedskamp van omtrent 100 Voortrekkers. Hulle het ’n wye spektrum vaardighede tydens drie spesialisasies baasgeraak.

Die varswater-spesialisasie behels onder meer die bestuur en bewaring van vars water. Die seremonie-spesialisasie sluit die uitvoering van seremonies, paradewerk en seremoniële drilwerk, soos by drilvertonings en taptoes, in.

Die voetslaner-spesialisasie sluit teoretiese kennis in, asook ’n staptog van 20 km, vier nagte oorslaap en weer 20 km terugstap.

Die staptog begin om 04:00 om die Kalahari-son te ontwyk. Hierdeur word sielkundige grense verskuif.

’n Hoogtepunt was die vier dae op Wildeklawer, ’n topplaas. Daar is onder die oop sterrehemel op die oewer van die Vaalrivier geslaap, kos in die veld gemaak, saans om die vuur gekuier en deurnag wag gestaan.

Nog ’n hoogtepunt was die bou van toestelle soos barometers, anemometers en windkouse waarmee klimaatsfaktore wat reën beïnvloed, gemonitor kan word.

Die gr. 11-leerling, die “Vlotters”, het een nag op hul vlot oorgeroei en die gr. 8-leerlinge gedoop omdat dit hul eerste verkenner- of hoërskoolkamp was.

’n Boeresportsessie in die knie-diepte modderwater naby ’n spilpunt het gou in ’n volskaalse modderbad ontaard.

Die gr. 8-leerlinge bedank Louis de Kock van Wildeklawer, en die gasheer, Manie Pickard. Wildeklawer se sekuriteitafdeling het na veiligheid omgesien.

  • Die kamp is ’n jaarlikse instelling en belangstellendes kan Dawid van der Berg by 084-701-0894 bel kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article