Die SuperSport Let’s Play Sportster van die jaar-toekennings vir die Noord-Kaapse koerante, Noordkaap, Express Northern Cape en Kalahari Bulletin is op Donderdag 29 November by die Flamingo Casino-konferensiesentrum in Kimberley gehou.
Eerste en tweede plekke is toegeken vir elkeen van die bogenoemde publikasies.
Eugene Jacobs, die uitvoerende hoof van Noord-Kaap Krieket, en Geraldine Faber, ’n verteenwoordiger van Specsavers, was die gassprekers tydens die geleentheid.
Specsavers het ’n R2 000-koepon vir Police-sonbrille vir die wenners geborg, sowel as drie R500 geskenkbewyse vir die naaswenners.
Daar was ook Infinity-sonbrille ter waarde van R690 vir elkeen van die ouers.
Marjuzel Venter en Daniël du Toit is onderskeidelik as die Noordkaap-wenner en -naaswenner van vanjaar se kompetisie gekroon.
- Die wenner van vanjaar se Noordkaap Let’s Play Sportster van die jaar kompetisie is die 14-jarige Marjuzel Venter.
Marjuzel, ’n gr.8-leerling aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, is ’n veelsydige sportster wat die afgelope paar jaar op plaaslike-, -nasionale- en internasionale vlak besonderse prestasies behaal het.
Marjuzel is as Juniemaand se wenner van die Noordkaap Let’s Play Sportster van die jaar kompetisie gekies vir haar puik prestasie in tennis en netbal.
Dit is veral op die tennisbaan waar Marjuzel vanjaar geskitter het.
Nie net speel Marjuzel vir haar skool se eerste tennisspan nie, sy beklee ook die eerste plek in die Noord-Kaapse provinsiale o.15-tennisranglys.
Marjuzel is vanjaar vir die derde jaar agtereenvolgende jaar vir die Suid-Afrikaanse junior Springbok o.15-tennisspan gekies.
Sy het in Julie as deel van die Suid-Afrikaanse span in na die Verenigde Koninkryk getoer waar sy nie ’n enkele wedstryd verloor het nie.
Marjuzel is ook die onderkaptein van haar skool se o.14A-netbalspan en is vanjaar weer in die provinsiale o.14-span ingesluit.
Marjuzel se leuse is: “Wees altyd passievol en ten volle toegewyd aan alles wat jy aanpak. Werk hard om jou gegewe talente te ontwikkel, maar bly beskeie wanneer jy sukses behaal.”
- Die naaswenner van vanjaar se Noordkaap Let’s Play Sportster van die jaar kompetisie is Daniël du Toit.
Daniël,’n gr.11-leerling aan die Hoërskool de Aar, is veelsydige sportman wat die afgelope paar jaar op plaaslike-, -nasionale- en internasionale vlak besonderse prestasies behaal het.
Daniël is as Augustusmaand se wenner van die Noordkaap Let’s Play Sportster van die jaar kompetisie gekies vir sy puik prestasie in tennis, krieket – maar veral in skiet.
Daniël is sedert 2016 deel van die Junior Protea-skietspan waar hy Suid-Afrika op internasionale vlak verteenwoordig het.
Hy is vanjaar ook as die kaptein van die o.19 Junior Protea-Span gekies.
Daniël het as deel van dié span by die 149ste Imperial-kompetisie in Engeland teen skuts van Engeland en Kanada deelgeneem.
Buiten sy internasionale prestasies in skiet is Daniël ook ’n veelsydige sportman wat oor die afgelope paar jaar aan verskeie sportsoorte soos tennis, krieket en atletiek deelgeneem en presteer het.
Daniël het vanjaar (2018):
– Die Noord-Kaapse eerste tennisspan gehaal
– Sy skool se eerste krieketspan gehaal
– Hy is ook as die kaptein van sy skool se krieketspan gekies
Daniël glo dat sport ’n belangrike deel van elke kind se ontwikkeling is. Hy sien sport as iets wat gemeenskappe saambind, ongeag jou ras, kultuur, ouderdom of status soos geënspireer deur oud-president Nelson Mandela tydens die Rugby-Wêreldbekker van 1995.
Daniël het twee leuses: een vir die lewe en een vir sport.
Daniël se leuse vir sport is: “Moed opgee is eenvoudig nie ’n opsie nie.”
Sy leuse vir die lewe is: “As God vir jou is, wie kan teen jou wees?”