’n Jong rugbyspeler van Daniëlskuil sal waarskynlik vir sowat twee jaar nie in ’n hoërskool-rugbywedstryd speel nie nadat hy vir 24 wedstryde geskors is.

Dit is die swaarste straf wat ’n speler in sy ouderdomsgroep opgelê kan word.

Dié straf volg nadat ’n 15-jarige leerling van die Hoërskool Daniëlskuil Donderdag (09/06) tydens ’n virtuele tugverhoor van die Griekwaland-Wes-rugbyunie skuld beken het.

Sy skulderkenning volg op die beweerde aanranding van Christo Kemp, ’n onderwyser van die Hoërskool Daniëlskuil, en Fires van Vuuren, ’n skeidsregter van die Griekwaland-Wes-skeidsregtersvereniging (GWSV), tydens ’n o.15-rugbywedstryd tussen die Hoërskool Daniëlskuil en die Hoërskool Kathu.

Kat Swanepoel, voorsitter van die GWSV, sê hoewel die seun skuld beken het en verskoning gevra het, kon hulle nie die erns van die klag ignoreer nie.

Volgens Swanepoel aanvaar die seun sy straf volkome en weet hy dat sy optrede verkeerd was.

Van Vuuren het die straf verwelkom. Volgens hom word die regte boodskap hierdeur uitgestuur, maar hy wou weet wat van die kind gaan word.

“Dit was ’n slegte voorval, maar hy is ’n kind, nie ’n slegte kind nie, wat ’n fout begaan het. Hy het die volwasse ding gedoen deur verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar, maar wat word nou van hom?”

Van Vuuren sê hy sukkel om die trauma van die voorval te verwerk en ontvang berading daarvoor. Hy sê Kemp is nog nie op ’n goeie plek ná die aanval nie en ontvang ook berading.

Volgens Danie Slabbert, voorsitter van Griekwaland-Wes-hoërskolerugby, is daar geen nuwe reëls ten opsigte van skeidsregters nie en word die huidige reëls benadruk en moet die tuisspan beter beheer neem oor toeskouers en die veiligheid van beamptes.

Hy sê wedstryde kan gestaak word as daar direkte verbale aanvalle op skeidsregters is, waarna toeskouers gevra sal word om die terrein te verlaat.

’n Beroep word ook op mede-toeskouers gedoen om nie betrokke te raak nie en om onaanvaarbare gedrag aan te meld “sodat die ordentlike toeskouers die voorreg kan hê om skolerugby te geniet”.

Die ander aangeklaagdes, onder wie nog ’n leerling, se verhoor is op versoek uitgestel.

Kaydene Davids

You need to be Logged In to leave a comment.