Sewe jongelinge van Prieska, waaronder die jongste een in Suid-Afrika, het onlangs hul B-klas amateurradiolisensies verwerf.
Nie net spog elkeen nou met ’n nuwe roepsein nie, maar het hulle die kennis en selfvertroue om op Hoë Frekwensie (HF) op onder meer 40 m- en 80 m-bande kontak met ander radio-amateurs landwyd te maak.
Steve Brooks, roepsein ZS3SB, ’n rekenaarstoepassingtegnologie-onderwyser aan die Hoërskool Prieska, het hulle opgelei. Hy het sy Klas A-lisensie net meer as ’n jaar gelede gekry.
“Ek is so trots op hulle, veral op Charles Coetzee, wat op 9-jarige ouderdom sover ons weet die jongste radio-amateur in die land is.
“Aanvanklik het ek in 2021 ’n daglange kursus oor radio-gebruik vir 11 leerlinge aangebied. Met behulp van die Suid-Afrikaanse Radioliga en ons plaaslike Bo Karoo-radioklub het ek in Maart ’n amateurradiokursus (B-lisensie) vir jong mense onder 25 aangebied.”
“Die kinders het Maandag- en Woensdagmiddae klas gehad om hulle voor te berei vir die teorie-eksamen. Met Google-vorms het ek aanlyn toetse opgestel. Die vakinhoud behels elektronika, prosedures, antennes, die fonetiese alfabet, frekwensies waarop jy mag praat ensomeer.
“Die praktiese opleiding behels die opstel van die radio en antennas en om kontak met ander radio-amateurs te maak. Gedurende ’n kontaksessie moet die leerling deur die regte prosedure gaan soos om homself te identifiseer, die datum, tyd en plek, die ander persoon se roepsein, naam en dorp vas te stel, wat die seinsterkte en stemgehalte is. Alles moet in die logboek aangeteken word.”
Pieter en Alta Gaybba, hul roepseine onderskeidelik ZS3PG en ZS3PA, was die eksaminatore wat die praktiese en die teoretiese eksamen afgeneem het.
“Al sewe leerlinge het hul lisensies en roepseine gekry. Die roepsein ZU identifiseer hulle as B-lisensiehouers, in watter deel van die land hulle is, en ’n unieke naamkode wat hulle self kies. Een van die kompetisies waaraan ons deelneem, is die Erfenis op die Lug. Die amateur moet na ’n geskiedkundige plek ouer as 75 jaar, soos ’n slagveld, gaan. Daar moet hy of sy ’n radio en antenna opstel en foto’s neem.
“Hy moet kontak maak met vyf ander mense, dan is die punt geaktiveer. Hy moet koördinate gee van waar hy is en vertel wat die plek geskiedkundig maak. Dit word in die logstaat opgeteken en op die Heritage on the Air (HOTA)-webwerf gelaai. Hoe meer kontakte en geskiedkundige punte, hoe meer punte.”
Thys Louw is ’n radioamateur en redakteur van die Bo Karoo-radioklub wat Sondagmiddae ’n nuusbulletin uitsaai. Sy roepsein is ZS1TBP.
ZS1 beteken hy is in die Wes-Kaap, en TBP staan vir Thys Baie Praat. Hy sê elke roepsein is so uniek soos ’n vingerafdruk.
Volgens hom kan leerlinge se nuwe vaardighede loopbaangeleenthede vir hulle ontsluit.
“Hulle kan die lugvaartbedryf betree of elektroniese ingenieurswese studeer. Dit is ongelooflik wat jy met ’n radio kan doen. Jy kan deur middel van ’n rigstraler-antenna en satelliet met ander kontak maak. Jy kan ook met die Internasionale Ruimtestasie kontak maak deur ’n rekenaarprogram en toepassing op jou selfoon gedekodeerde foto’s aflaai en vir Nasa stuur, wat vir jou ’n sertifikaat sal terugstuur.”




