Meer as 20 jaar nadat die voormalige Springbok Gaffie du Toit sy stempel by Griekwas afgedruk het, verteenwoordig een van sy seuns die Noord-Kapenaars nou ook op junior vlak op die rugbyveld.
Stéphan du Toit (19), wat verlede jaar vir die Poubloues se o.21-span diens gedoen het, hoop om vanjaar weer vir dié span uit te draf.
Hy is ’n rugbyafrigter by die Hoërskool Prieska, waar hy ook vir die dorpspan speel.
Du Toit hoop indien hy goed vertoon vir Griekwas se o. 21-span dat die afrigters van die unie se senior span hom sal raaksien.
Hy is ’n oudleerling van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein.
“Toe ek aan die begin van verlede jaar van die geleentheid (by Griekwas se o.21’s) gehoor het, het ek nogal gedink hierdie is my kans. Heel toevallig by die plek waar my pa ook begin het,” sê Du Toit, wat senter of losskakel speel.
Hoewel sy pa diep spore by Griekwas gelaat het (hy het hulle in 31 wedstryde in 1998 en 1999 verteenwoordig waarin hy 390 punte aangeteken het), maak Du Toit dit duidelik dat hy sy eie storie skryf.
“My pa het sy naam vir homself gemaak. Dit is nie dat ek in sy voetspore wil volg nie, dit is net heel toevallig dat ek my kans by Griekwas gekry het waar my pa syne gekry het.
“Ek wil my eie storie skep en skryf.”
Dit was in 1998 in Kimberley waar Gaffie sy eerste proesel provinsiale rugby gekry het.
Gaffie (47), wat meestal losskakel gespeel het, het onder meer die Springbokke in 14 toetse verteenwoordig. Gaffie het ook vir die Vrystaat, Haaie en die Westelike Provinsie diens gedoen.
Sy laaste toets was in 2006 teen Frankryk op Nuweland in Kaapstad.


