Abri van Tonder

Foto: Facebook/Hoërskool Noord-Kaap

Hy het geweet waarvoor hy homself inlaat, en het sy kop daarop neergesit dat hy gaan wen.

Só vertel die 17-jarige Abri van Tonder oor die eerste plek in die ope afdeling wat hy in die Kelrn MTB Classic 35 km-fietsren behaal het.

Abri, ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Noord-Kaap in Kimberley, het dié fietsren in 1:12:01.5 voltooi en daarmee die 95 ander deelnemers van alle ouderdomme oortref.

Dié fietsren was een van talle wat van 25 tot 27 Oktober by Holsdam buite Barkly-Wes as deel van die jaarlikse Kelrn MTB Classic-byeenkoms aangebied is.

Fietsryers ouer as 12 jaar, en van alle ervaringsvlakke, kon aan die 35 km-fietsren deelneem. Die roete word as “nie maklik nie” beskryf, wat vaardighede en goeie fiksheid vereis.

Abri, wat eerder op motocross fokus, vertel dat hy dié fietsren vir sy ouers, albei met gesondheids­probleme, voltooi het. 

Hy ry al vanaf 2018 fiets, hoewel hy vir ’n tydperk tydens die Covid-19-pandemie nie gery het nie. Vir die onlangse fietsren het hy net “n paar keer geoefen, maar het besluit hy gaan wen.

Hy neem op Saterdag 9 November aan die Sol Plaatje-universiteit se fietsry-uitdaging in Kimberley deel, die Saterdag daarna aan ’n motocross-byeenkoms, en die naweek daarna aan ’n fietsrybyeenkoms by Rooifontein buite Kimberley.

Vir nog uitslae besoek kelrnmtb.net.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article