In die uitgerekte borgtogaansoek van John-Ross Henderson (38) waar hy in die landdroshof in Kimberley teregstaan op die opspraakwekkende moord van Jayson Afrique en die poging tot moord op Afrique se vrou, Micayla, het die staat die sluier effe oor die gebeure gelig.
Afrique, ’n gewilde sakeman en kranige motorfietsryer, en sy vrou is op 31 Julie vanjaar voor die sekuriteitshek by hul meenthuiskompleks in Kimberley voorgelê, waar hul agtervolger glo op hulle met ’n vuurwapen losgebrand het.
Die borgtogaansoek is op Donderdag 26 September ’n derde keer uitgestel sedert Henderson se inhegtenisneming op 20 September.
Henderson besit die CapitalGuard-sekuriteitsfirma, wat hy in 2018 gestig het. Die maatskappyadres was aanvanklik in ’n gebou reg oorkant die polisie se provinsiale hoofkantoor, maar word sedertdien as Belgravia, Kimberley, aangedui.
Henderson is in 2017 strafregtelik aangekla weens aanklagte van gewapende roof en poging tot moord tydens ’n voorval in November 2017 by ’n kafee in Roodepan.
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê Henderson was tydens die betrokke voorval in diens van die polisie se openbare orde-eenheid.
“Die uitkoms van die interne dissiplinêre stappe teen Henderson is vertroulik en word nie bekend gemaak nie,” sê Kock.
Die strafregtelike verhoor is nog hangend.
Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê die landdros in dié verhoor is oorlede voordat die verhoor afgehandel is.
“Die saak is nie van die rol geskrap nie. Die direkteur van openbare vervolgings (DOV) moet besluit of die verhoor van voor af moet begin. Die aanklaer het aanbevelings aan die DOV gestuur en wag op die DOV se besluit of die vervolging moet voortgaan of nie.”
Misdaadskedule vertraag borgtogaansoek verder
Henderson se borgtogaansoek wat begin het nadat dit twee keer uitgestel is, is verder vertraag nadat adv. Celeste Nameka, sy regsverteenwoordiger, aangevoer het die aanklagte val onder skedule 5 van die Strafproseswet, en nie skedule 6 vir ernstige misdade nie. Die borgtogaansoekproses vir skedule 6 is strenger. Die onus rus op die beskuldigde om buitengewone en dwingende omstandighede te bewys wat sy vrylating op borgtog regverdig.
Henderson, geklee in onder meer ’n swart baadjie, en wat met ’n kennebaard spog, het in ’n stadium tydens die hofverrigtinge omgedraai en vir ’n hofganger in die volgepakte hofsaal geknipoog en geglimlag.
Kago Barnett, aanklaer, het in haar betoë aan landdros G.S. Plaatje gesê die ondersoek dui daarop dat dit ’n voorafbeplande moord was en daarom onder skedule 6 val.
Henderson het op die dag van die voorval na bewering geweet op watter pad die egpaar was, en hulle ’n tyd lank agtervolg. Hy het sy motorligte geflits en beduie hulle moet aftrek, maar hulle het nie.
Hy het toe voor hulle uitgejaag en hulle by die sekuriteitshek van hul woonkompleks voorgelê en die weg versper. Hy het glo voor die voertuig gaan staan en na hulle beduie. Afrique het glo die toeter gedruk dat hy moet wegbeweeg. Afrique het toe glo lont geruik en agteruit gery, waarop tien skote op hom en sy vrou afgevuur is. Vier van die skote het getref, maar Afrique se vrou was ongeskonde.
Nameka het op haar beurt aangevoer daar is verskillende motiewe vir moord, soos dolus directus en dolus eventualis. Die staat het nie bewyse dat die moord voorafbeplan was nie. Die verdediging het nog geen inligting van die staat ontvang nie. Die aanklagte moet eers in die verhoor bewys word. Moorde gebeur ook in die hitte van die oomblik, sonder dat daar voorafbeplanning was.
Toe landdros Plaatje die saak na Maandag 30 September uitstel om regspraak te bestudeer en haar uitspraak te bedink, was Nameka onverhoeds betrap. Nameka het gesê die borgtogaansoek kan steeds voortgaan omdat die ondersoekbeampte teenwoordig is om te getuig.
Landdros Plaatje het geweier en Henderson is weer na die selle begelei waar hy nog ’n naweek gaan deurbring.
Beskuldigde kry glo ‘spesiale behandeling’
Intussen het ondersteuners van die slagoffers buite die hof gemor oor die vele vertragings en die “spesiale behandeling” wat die beskuldigde kry.
Henderson het met sy tweede verskyning suksesvol aansoek gedoen vir ’n bevel dat geen hofganger foto’s van hom in die hof of foto’s buite die hofsaal mag neem nie.
Geen redes daarvoor is verskaf nie.
Henderson se aansoek met sy eerste verskyning dat ’n ander landdros as Kubashni Padayachee sy aansoek hoor, is ook toegestaan, asook sy aansoek dat hy in polisieselle aangehou word, eerder as in die gevangenis.


