Desert Dirk gebind aan Grootdrink

Met sy vierde oorwinning in die onlangse Kalahari Augrabies Extreme Marathon (KAEM) het Dirk Cloete die status wat gepaardgaan met sy nie-amptelike titel onder ultra- en veldwedloop-deelnemers, “Desert Dirk”, bevestig. Sy band met hierdie droë streek


Met sy vierde oorwinning in die onlangse Kalahari Augrabies Extreme Marathon (KAEM) het Dirk Cloete die status wat gepaardgaan met sy nie-amptelike titel onder ultra- en veldwedloop-deelnemers, “Desert Dirk”, bevestig. Sy band met hierdie droë streek in die Noord-Kaap loop veel dieper as sy deelname aan en oorwinnings in die KAEM.

“Ek het grootgeword op die nabygeleë Grootdrink. Weens die ontvolking van die platteland was ek in drie laerskole. Die eerste twee moes toemaak en opgeslurp word deur Wilgenhoutsdrif en Grootdrink. In standerd vier (graad ses) is ek toe na die Laerskool Gariep, waar daar 74 leerlinge en vier onderwysers was.

“Hier het ek by die eerste rugbyoefening in die verkeerde rigting gehardloop. Ek het uitgee nog nie bemeester nie en die getalle voor my was groot. Meneer Wagner, die skoolhoof, het naby ’n hartaanval gedraai.”

Was dit die begin van groot sportdrome soos om ’n Springbok te word in die een of ander sportsoort?
“Nee glad nie. Weens ons relatiewe isolasie was al daardie dinge te groot en te ver om van te droom. ’n Oortuigende punte-oorwinning agter die muur van daardie einste rugbyveld op Gariep kon my nie eens sover kry om te droom van ’n loopbaan as beroepsbokser nie. Ek wou maar altyd net die volgende span haal of die volgende wedloop probeer wen.”

Op hoërskool, HTS Upington (deesdae Duineveld), het hy wel eerstespankleure gekry vir rugby, krieket en atletiek.

“Daar kon ek geen atletieknommer, nie eens op die skool se kleurbyeenkoms, wen nie weens die oorheersing van een skoolmaat. Toe, vroeg in my matriekjaar in 1985, het ek hom baasgeraak in al die middel- en langafstande waarin ons teenstanders was op ’n byeenkoms wat plaasgevind het tussen my ma se afsterwe en begrafnis.”

Die momentum uit daardie gebeure was van korte duur, vertel hy: “In my eerste jaar op Stellenbosch, met ’n Anglo-beurs, het ek by die eerstejaarsatletiek redelik onvoorbereid aangetree vir die 800 meter. Die afstand waarmee die Westelike Provinsie se topatlete my die dag geklop het, het my genoop om my spykerskoene weg te gooi. Fisiek, tot in die 30ste ry van Coetzenburg se paviljoen waar my vriende gesit het.

“Op 19 het ek aan my eerste marathon deelgeneem – tussen Keimoes en Upington. Daarna het ek 12 jaar lank aan geen wedloop van enige aard deelgeneem nie, maar het elke dag vir die lekkerte gaan draf.”

Nou, op 48, het Dirk Cloete ’n hardloop-CV. Altesaam 17 Comrades-medaljes waarvan 14 silwer; 11 Twee Oseane­-silwermedaljes; 4 KAEM-oorwinnings; en ’n vierde plek (eerste veteraan) in China se Gobi Desert Marathon in 2011.

Hy was voorts nasionale verteenwoordiger by die ultraveldwedloop-wêreldkampioenskap in Wallis in 2013 en het twee keer die Namib Desert Challenge gewen.

“My eerste oorwinning in die KAEM in 2009 het ook baie beteken. Eerstens omdat ek die vorige vinnigste tyd (daar is nie ’n vaste rekord nie omdat die roetes jaarliks verskil) met ses en ’n half uur verbeter het en die grense verskuif het oor wat mense geglo het moontlik is. Tweedens omdat dit ’n intense belewenis vir my en my pa was en ons nader aan mekaar gebring het. Hy is intussen oorlede.

“Van al die wonderlike plekke waar ek kom danksy veldwedlope, is die plaas op Grootdrink steeds een van my gunstelingplekke in die wêreld. Broer Hendrik boer nog daar en sorg dat die familie met gereelde byeenkomste bymekaar gehou word.”

Voetslaners sal hulle kan vereenselwig met die behoefte om die natuur in te vaar met ’n rugsak, maar om te gaan hardloop en meeding?

“As ek in ’n nagskof die roete volg van baken tot baken, is my belewenis van die natuur, die skepping en inderdaad die lewe, ewe groots of ek nou eerste is of in derde plek lê.

Was hy bekommerd toe die hoog aangeskrewe Deen, Tomas Sundman, op die derde dag van die KAEM elf minute van sy voorsprong ingehaal het?

“Effens, maar ek weet uit ondervinding ’n vinnige dag drie kan jou inhaal op dag vier se lang skof (79 km). Dit was ook so: Toe ons ’n 18 km- sanderige opdraand tref, het dit gelyk of iemand sy (Sundman se) handrem optrek. Ek het 38 minute op die dag gewen.”

Is wedlope soos die KAEM met sy enorme inskrywingsgeld nie sommer net elitistiese afleiding vir ryk mense nie?

“Mense van verskeie agtergronde en finansiële vermoë neem deel. Mense wat dit wil doen, vind die geld. Dit is makliker as die fisieke en geestelike uitdaging van die wedloop self.

You need to be Logged In to leave a comment.