Die besef dat ’n mens meer kan doen as wat jy dink jy kan, om dae in die natuur deur te bring en nagte om ’n kampvuur onder die sterre, is wat ’n groep jonges onlangs beleef het.

Nege jeuglede in gr. 8 en gr. 9 was deel van ’n groter gebiedskamp van omtrent 70 Voortrekkers wat van 21 tot 28 September ’n kamp op die Bodemvasterrein en die Wildeklawer-plaas by Barkly-Wes bygewoon het.

Vier volwasse offisiere het dié nege tydens die Noord-Kaap-gebiedskamp vergesel.

Die groep van 13 het een dag op die Bodemvasterrein deurgebring en daarna na Wildeklawer gestap om vier dae daar deur te bring.

Kennis verbreed

’n Wye spektrum van onderwerpe is tydens drie spesialisering behandel.

Die varswater-spesialisering behels onder meer die bestuur en bewaring van vars water, en die seremonie-spesialisering die uitvoering van seremonies en seremoniële drilwerk, soos by drilvertonings en taptoes.

Die voetslaner-spesialisering sluit teoretiese kennis in, ’n staptog van 12 km, vier nagte oorslaap, en weer 12 km terug. Die staptog begin om 04:00 om die warm son te ontwyk, en vanjaar was die nagte baie koud.

“Die jongmense se sielkundige grense word verskuif, want hulle glo nie dat hulle so ver in die voordag kan stap nie,” vertel Dawid van der Berg, gr. 8-groepleier.

Drie deskundiges het ook hul kennis gedeel. Coen Visser, geoloog, het geologie en geohidrologie verduidelik, terwyl Annemarie van Heerden, botanis van die McGregor-herbarium, plantkunde behandel het. Manie Pickard van Wildeklawer het die groep tydens ’n toer meer oor die bestuur van varswater geleer, en Wildeklawer se aktiwiteite is ook bekyk.

Kennis is verder uitgebrei deur die bou van baro- en anemometers, asook windkouse waarmee die klimaatsfaktore gemonitor word wat reën beïnvloed, aangesien reën die enigste aanvulling van vars water is.

Kamp as ‘fees’ beskryf

Die program was vol aksie, adrenalien en uitdagings. ’n Kampterrein is onder digte bosse ingerig, daar is op die oewer van die Vaalrivier onder sterre geslaap, kos is in die veld gaargemaak, saans is om die vuur gekuier en deurnag is waggestaan.

Die gr. 11-groep wat die hele week op ’n vlot op die rivier geroei het, het die gr. 8 en gr. 9-kamp besoek en die gr. 8’s “gedoop” omdat dit hul eerste verkenner- of hoërskoolkamp was.

’n Boeresportsessie in vlak modderwater het in ’n modderbad ontaard.

’n Kampvuurkonsert is ook aangebied.

Die gr. 8-projekleiers, Dawid en Susan van der Berg.

Dié vier dae by Wildeklawer word as ’n fees beskryf, met die landerye en spilpunte wat tot ’n rustige atmosfeer bydra. Boonop beskik die kampterrein oor ’n veilige swemplek, maar lewensbaadjies is steeds beskikbaar gestel. Buitebande om mee te swem is deur Fit-It Kathu geskenk. ’n Veilige vuurmaakplek is ingerig, asook ’n stoor waarheen die groep kon skuif ingeval van donderweer.

Die offisiere vir die gr. 8- en gr. 9-groep was Dawid, Susan en Schalk van der Berg van Kathu, en Jaco Conradie van Uitenhage. Die jeuglede was Pieter Fourie, Berrie van Niekerk, Hanro Kraucamp (al drie van Kathu), Sonica Barry, Anja Conradie, Hayden Greyling (al drie van die Oos-Kaap), Arno Robbertse, Nico van Heerden (albei van Vryburg) en Janè Oosthuisen (Bothaville).

  • Die Voortrekkers is ’n kultuur-organisasie waar kultuur en avontuur in die natuur geniet word en dié kamp is ’n jaarlikse instelling. Bel Van der Berg by 084-701-0894 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article