Te danke aan ’n beursprogram kan nog twee jongmense beduidend tot ondersteuning van hul gemeenskap in Loeriesfontein bydra.
Die beursprogram deur die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanlegte dien as ‘n inspirasie vir plaaslike jeug en wys hoe vasberadenheid gekombineer met die regte hulpbronne, tot beduidende gemeenskapsbydraes en persoonlike ontwikkeling kan lei.
Maleting Hugo, nou ‘n maatskaplike hulpwerker by die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid (Sanca) in Loeriesfontein, skryf haar professionele vordering aan die beursprogram toe.
“Die ondersteuning van die windplase was instrumenteel in my studies aan die Hugenote Kollege in Wellington,” sê Hugo.
Die beursprogram is ontwikkel om aan matriekleerlinge of diegene wat reeds heeltyds aan ‘n universiteit of kollege studeer, toegang tot tersiêre onderwys te bied.
Ook Anna Pieters, wat van ‘n onderwyspos by die Laerskool Loeriesfontein na die departement van onderwys oorgeskakel het, baat hierby.
“Die beurs het my voltooiing van ‘n B.Ed grondslagfase by die CPUT Wellingtonkampus vergemaklik,” sê Pieters.
Hul prestasies beklemtoon nie net persoonlike sukses nie, maar ook die kritieke rol van opvoedkundige ondersteuning om die potensiaal binne ‘n gemeenskap te koester.
Hugo en Pieters moedig die jeug van Loeriesfontein aan om hul drome na te streef, en sê dat met die regte ondersteuning ook hulle ’n betekenisvolle bydrae tot die ontwikkeling van diel gemeenskap kan lewer.
Die windkragaanlegte se beursprogram bevorder ‘n kultuur van sukses en gemeenskaplike opheffing.
“Hierdie suksesverhale beklemtoon die belangrikheid om in plaaslike talent te belê en gemeenskapsgedrewe inisiatiewe te koester,” sê Vanessa Fredericks, ekonomiese ontwikkelingsbestuurder vir die windkragaanlegte.


