Die Kgalagadi-oorgrenspark is vanjaar 20 jaar oud.
Makhotso Sotyu, die adjunkminister van omgewingsake, bosbou en visserye, sê dié viering is ’n mylpaal vir bewaring en ekotoerisme in die Noord-Kaap.
Die park is op 12 Mei 2000 amptelik as die eerste vredespark in Suider-Afrika deur die destydse presidente van Botswana en Suid-Afrika, Festus Mogae en Thabo Mbeki, benoem nadat Botswana en Suid-Afrika op 7 April 1999 ’n historiese bilaterale ooreenkoms onderteken het. Albei lande het onderneem om hul aangrensende nasionale parke, die Gemsbok Nasionale Park in Botswana en die Kalahari-Gemsbok Nasionale Park in Suid-Afrika, ekologies as ’n eenheid te bestuur.
Deur die vestiging van die oorgrenspark kon Botswana en Suid-Afrika die bewaring van waardevolle natuurlewe in dié groot, semidroë, sanderige savanne op lang termyn waarborg, en sodoende die integriteit van die Kalahari-woestyn-ekosisteem behou wat groot dele van Botswana, Namibië en streke van Suid-Afrika dek.
Oorgrens-bewaringsgebiede verhoog ook die internasionale profiel van die gebied as ’n toerismebestemming en dra by tot die welstand van gemeenskappe langs die park, sê Sotyu.
Daar is geen heining op die grens tussen die twee parke nie, hoewel dit ook die internasionale grens tussen die twee lande is. Die park beslaan ’n oppervlakte van ongeveer 3,6 miljoen hektaar.
Volgens Sotyu het die park reeds talle hoogtepunte beleef en veral na die gemeenskappe daar rondom uitgereik. Talle skole uit die omgewing vind baat by die park se inisiatiewe om leerlinge by bewaring en hul skoolprogramme te betrek. Die skole in die onmiddellike omgewing is ook oor die jare heen van progressiewe leer-materiaal soos interaktiewe witborde voorsien.
Oor die afgelope drie jaar is die kampeergeriewe en ander wooneenhede in die park opgeknap.
Volgens Sotyu het die park ’n goeie verhouding met die !Khomanisan- en Nama-gemeenskappe van Welkom, Andriesvale, Askham en Rietfontein wat die !Xaus-lodge in die park bedryf.
Toeriste wat dié lodge besoek, kan ook ’n lewende Boesman-nedersetting en -museum hier beleef. Die oorgrenspark is ’n foto-mekka en fotograwe van oor die wêreld heen besoek die park vir sy uitsonderlike wild- en voëlspesies, asook asemrowende landskappe.
Die park is op 12 Mei 2000 amptelik as die eerste vredespark in Suider-Afrika deur die destydse presidente van Botswana en Suid-Afrika, Festus Mogae en Thabo Mbeki, benoem nadat Botswana en Suid-Afrika op 7 April 1999 ’n historiese bilaterale ooreenkoms onderteken het.