Een van die waterlekke van waar inwoners water aandra.

Foto: Verskaf

Inwoners van dele van Wrenchville by Kuruman is al moeg gespook met waterprobleme.

Nie net het 60 huishoudings die afgelope vyf jaar geen lopende water in die krane in hul huise nie, maar moes ’n aantal ander huishoudings waar voorafbetaalde watermeters gekoppel is, meer as ’n maand sonder water in die krane regkom weens ’n sleutel wat soek was.

Die huise van die 60 huishoudings in ’n deel van Spokiesdorp wat sonder water in hul krane moet saamleef, is in 2019 gebou.

Sedertdien kon inwoners van hierdie huise nog nie die luukse beleef om ’n kraan oop te draai of om die toilette te spoel sonder om water aan te dra nie.

Probleem met watertoevoer ná vyf jaar onopgelos

Nottie Eilerd, DA-raadslid in die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit en ’n inwoner van Wrenchville, vertel dat die rede van geen watertoevoer na dié huise weens verskeie redes ná vyf jaar steeds nie deur die Ga-Segonyana- plaaslike munisipaliteit opgelos is nie.

Die nabygeleë op­gaardam, vanwaar dié huise se water moet kom, het glo nie ’n klep wat die invloei van water kan stop wanneer die dam vol is nie.

Ook, weens ’n verskil in pypdiktes is die waterdruk na die huise nie voldoende nie.

Boonop is dit ’n raaisel oor waar die stopkrane geleë is om watertoevoer hetsy oop of toe te draai.

Volgens Eilerd dra die munisipaliteit kennis van die situasie en beplan onder meer om die toepaslike pype na 160 mm te verander.

Die inwoners van dié 60 huise wil egter weet wanneer dit gaan gebeur, want hulle wag reeds vyf jaar.

’n Inwoner sê dit is binnekort Desember-vakansie, wanneer sulke werk nie gedoen word nie; dan begin die jaar met ’n “mid-term budget”, waar nie geld is nie; en só gaan die rits verskonings aan.

Hoewel drie watertenks vir die gebruik van die 60 huishoudings opgerig is, los dit allermins probleme op. Dié watertenks lei tot ’n toutrekkery, soos inwoners wat koppe stamp oor hoeveel water elk uit die tenk mag gebruik, of vandalisme van die tenks, of die water in die tenks wat begin sleg ruik.

Van die inwoners het uit desperaatheid onwettige waterkoppelings gemaak, of tap water uit waterlekke wat elders voorkom.

Nuwe betaalmeters gee reeds probleme

Die frustrasie by die agt huise met voorafbetaalde watermeters wat sedert begin November sonder water moes klaarkom, is dat die sleutel van die munisipaliteit wat dié meters moet oopsluit om die pap batterye te vervang, soek was. Dié sleutel is glo saam met ’n munisipale amptenaar wat met verlof was. Die spaarsleutel kon nie opgespoor word nie.

’n Huis in Spokiesdorp met krane, maar sonder water. Hoewel die huis n waterbetaalmeter het, was dit vir ‘n maand buite werking. Die meter se batterye het pap geword en die sleutel waarmee die plaaslike munisipaliteit die meter moet oopsluit om dit te vervang, was soek.

Boonop is van die meters, wat sowat ’n jaar gelede gekoppel is, reeds foutief en kan inwoners nie die koopbewys se nommers ingelees kry nie.

Eilerd sê die vervanging van die batterye het eindelik Maandag begin, maar wanneer die planne deurgevoer gaan word om dié wat al vyf jaar sonder water is van dienste te voorsien, bly ’n ope vraag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article