Inwoners van
Olifantshoek sê die enigste tyd toe hul watertoevoer in die afgelope jare
betroubaar was, was toe die DA verlede jaar vir twee maande aan bewind van die
Gamagara-munisipaliteit was.
Vaal Central
Water moet water verskaf in samewerking met twee myne, wat water gebruik en die
surplus in die pyplynnetwerk moet terugplaas. Dit is nie altyd genoeg nie, en
munisipale boorgatwater moet die tekort aanvul.
Lindiwe Mnguni, woordvoerder van Vaal Central Water, sê “die vraag van die Vaal-watervoorsieningstelsel is sowat 70 megaliter per dag, maar ons skema kan slegs 30 megaliter per dag aan die dorp en die Kolomela- en Sishen-myne lewer. Die tekort is weens verouderde infrastruktuur en bevolkingsgroei in die Postmasburg- en Kgalagadi mangaan-myngebied.
’n Inwoner van
die dorp sê sy het ná jare se gesukkel haar boorgat weer in werking gestel.
“My windpomp se
toerusting was verweer en onklaar. Ons het ’n dompelpomp met opgaartenks van 7 000 liter gekoppel. Ons kan dit minstens gereeld vol
maak.”
Sy sê sekere dele
van die dorp kry eerste water, “en ons kry dit wat oorbly, as daar oorbly. Jy
weet dus nooit wanneer jy water gaan kry nie.
“Ons ry gereeld
na die armer woonbuurte om water uit te deel, want die munisipaliteit se
watertenks wat hulle neersit, is gereed leeg. Hoe kan amptenare wat ’n salaris
verdien, verwag dat arm mense so moet leef, water moet koop met geld wat hulle
nie het nie? Toe die DA regeer het, was daar so baie water die opgaardamme het
oorgeloop.
“Die
munisipaliteit se verskoning is gedurig dat Vaal Central Water nie genoeg water
verskaf nie, maar die munisipaliteit onderhou nie hul eie boorgate wat die
water moet aanvul nie.”
Boorgate onbewaak
Henriëtte du
Plessis, DA-raadslid wat twee maande lank die burgemeester was en die ampsmotor
vir twee werksbakkies ingeruil het, sê sy het die munisipale bestuurder aangesê
om die agt boorgate en pompe wat gevandaliseer word, te beveilig en
kragopwekkers te gebruik om water te pomp.
“Die boorgate is
in die veld, en onbewaak. Die grootste probleem by die munisipaliteit is
verantwoordbaarheid onder amptenare. Ons was te kort in regering om langdurige
oplossings in te stel. Ons en ons koalisievennote is ongelukkig met ’n mosie
van wantroue uitgestem.”
Mnguni sê hulle is besig om
die Vaal-stelsel op te knap.
“Die projek het in 2016 begin en is in twee fases
verdeel. Fase een is die pyplyn van 80 km tussen Roscue (die Olifantshoek N14-roete
afdraai) na Blackrock wat in Julie 2023 voltooi is en in werking is.
“Fase twee behels
die opknapping van die pypleiding- en pompstasies vanaf Delportshoop na Roscue
wat in die finale beplanningstadium is. Dit is in tien werkprojekte verdeel wat
in fases implementeer sal word. Die pyplyn tussen Postmasburg (Beeshoek-pompstasie)
en Gloucester-opgaardam is van kritieke belang om maksimum vloei van water na
die Kolomela- en Vaal-waterstelsel toe te laat.”
Die koste van
fase twee is sowat R10,8 miljard
om die Vaal-stelsel en boorgate rondom Postmasburg en Hotazel op te knap en te
verbind.
“Die projek word
deur ons in samewerking met die departement van water en sanitasie in werking
gestel. Dit is ’n voortdurende projek wat in 2025 weer hervat word.”
Sy sê die
munisipaliteit is besig om toevoer deur sy boorgate te vergroot.


